2 Korinthiërs 12:1-10

2 Korinthiërs 12:1-10 AFR20

As daar dan geroem moet word, is dit nie voordelig nie; maar ek kom nou by gesigte en openbarings van die Here. Ek weet van 'n man in •Christus wat veertien jaar gelede tot in die derde hemel weggeruk is – of dit in die liggaam of buite die liggaam is, weet ek nie, God weet dit. Ek weet ook van so 'n man – of dit met die liggaam of sonder die liggaam was, weet ek nie, God weet dit – dat hy weggeruk is tot in die paradys, en onuitspreekbare woorde gehoor het wat 'n mens nie mag noem nie. Op so iemand sal ek my beroem, maar op myself sal ek my nie beroem nie, behalwe oor my swakhede. As ek my wel daarop wil beroem, sal ek nie dwaas wees nie, want ek sal die waarheid praat. Maar ek weerhou my daarvan, sodat niemand meer aan my sal toedig as wat hy van my sien of by my hoor nie, selfs met inagneming van die buitengewone aard van my openbarings. Daarom, om te keer dat ek opgeblase word, en sodat ek nie hoogmoedig mag word nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van Satan, om my met die vuis te slaan. Hieroor het ek die Here drie maal gesmeek dat dit van my moet wyk. Maar Hy het vir my gesê: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Daarom sal ek my baie liewer op my swakhede beroem, sodat Christus se krag my kan beskut. Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk.

Video vir 2 Korinthiërs 12:1-10