2 Kronieke 29

29
Hiskia se reiniging van die tempel
1Hiskia was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Abi, dogter van Sagaria. 2Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy voorvader Dawid gedoen het. 3Hy is die een wat reeds in die eerste jaar van sy regering, in die eerste maand al, die deure van die huis van die Here oopgemaak en dit herstel het. 4Hy het die priesters en Leviete laat ingaan en hulle byeengebring op die plein aan die oostekant. 5Hy het vir hulle gesê: “Luister na my, Leviete! Heilig julleself nou, en heilig die huis van die Here, die God van julle voorouers, en verwyder die besoedeling uit die heiligdom. 6Want ons voorouers was ontrou en het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here ons God, en Hom verlaat. Hulle het weggedraai van die •tabernakel van die Here en hulle rug daarop gedraai. 7Hulle het selfs die deure van die portaal gesluit en die lampe uitgedoof. Reukwerk het hulle nie gebrand nie, en •brandoffers het hulle nie in die heiligdom vir die God van Israel gebring nie. 8Toe het 'n oordeel uit toorn van die Here teen Juda en Jerusalem losgebreek. Hy het van hulle 'n skrikwekkende voorbeeld, 'n verskrikking en die rede vir 'n gefluit, gemaak, soos wat julle met julle eie oë sien. 9 Kyk, ons voorouers het geval deur die swaard, en ons seuns, ons dogters en ons vroue is tans in gevangenskap as gevolg hiervan. 10Ek het my nou voorgeneem om met die Here, die God van Israel, 'n verbond te sluit, sodat sy brandende toorn van ons afgewend word. 11My seuns, moet nou nie nalatig wees nie! Want julle is deur die Here uitgekies om voor Hom te staan, om vir Hom diens te doen en om vir Hom tempeldienaars en dié wat offers verbrand, te wees. ”
12Die volgende Leviete het toe gereedgemaak:
Magat, seun van Amasai, en Joël, seun van Asarja, uit die nageslag van Kehat;
uit die nageslag van Merari: Kis, seun van Abdi, en Asarja, seun van Jehallelel;
uit die nageslag van Gerson: Joag, seun van Simma, en Eden, seun van Joag;
13uit die nageslag van Elisafan: Simri en Jeïel;
uit die nageslag van Asaf: Sagaria en Mattanja;
14uit die nageslag van Heman: Jehiël en Simi;
uit die nageslag van Jedoetoen: Semaja en Ussiël.
15 Hulle het hulle stamgenote byeengebring, hulleself geheilig en ingegaan volgens die opdrag van die koning, om in ooreenstemming met die woorde van die Here, die huis van die Here te reinig. 16 Die priesters het toe die binneste deel van die huis van die Here binnegegaan om dit te reinig. Hulle het alle •onrein dinge wat hulle in die •tempel van die Here gevind het, uitgebring na die voorhof van die huis van die Here. Die Leviete het dit oorgeneem om na buite, na die Kidrondal, te neem. 17Hulle het op die eerste dag van die eerste maand begin om die •tempel te heilig, en op die agtste dag van die maand het hulle by die portaal van die Here uitgekom. Daarna het hulle die huis van die Here vir nog agt dae geheilig, en op die sestiende dag van die eerste maand was hulle daarmee klaar.
18Toe gaan hulle in na koning Hiskia, en sê: “Ons het die hele huis van die Here gereinig, die brandofferaltaar en al sy gereedskap, die tafel met die gerangskikte brood, en al sy gereedskap. 19Al die gereedskap wat koning Agas gedurende sy regering in sy ontrou onbruikbaar gemaak het, het ons reggesit en geheilig. Kyk, dit is voor die altaar van die Here.
20Koning Hiskia het toe vroeg opgestaan, die stadsleiers byeengebring en opgegaan na die huis van die Here. 21Hulle het sewe bulle, sewe ramme, sewe lammers en sewe bokramme saamgeneem as 'n •reinigingsoffer vir die koningskap, vir die heiligdom en vir Juda. Hy het die nageslag van Aäron, die priesters, aangesê om dit op die altaar van die Here te offer. 22 Hulle het toe die bulle geslag, en die priesters het die bloed oorgeneem en dit teen die altaar gesprinkel. Hulle het die ramme geslag en die bloed is teen die altaar gesprinkel. Hulle het die lammers geslag en die bloed is teen die altaar gesprinkel. 23Daarna het hulle die bokramme vir die reinigingsoffer nadergebring voor die koning en die geloofsgemeenskap, en hulle het hulle hande daarop gelê. 24Die priesters het hulle geslag en met die bloed 'n reinigingseremonie by die altaar uitgevoer om versoening te doen vir die hele Israel, “want vir die hele Israel,” het die koning gesê, “is hierdie brandoffer en reinigingsoffer.”
25 Hy het die Leviete opgestel in die huis van die Here, met simbale, harpe en liere, in ooreenstemming met die opdrag van Dawid en van Gad, die koning se siener, en die profeet Natan; want dit was die opdrag deur die Here by monde van sy profete. 26Toe die Leviete gereedstaan met die instrumente van Dawid, en die priesters met die trompette, 27gee Hiskia die opdrag dat die brandoffer geoffer moet word op die altaar. Net toe met die brandoffer begin is, begin die lied van die Here en die trompette, met begeleiding deur die instrumente van Dawid, die koning van Israel.
28Terwyl die hele geloofsgemeenskap in aanbidding buig, is die lied gesing en die trompette geblaas. Dit het alles aangehou totdat die brandoffer afgehandel was. 29 Toe die brandoffer verby was, het die koning en almal wat by hom teenwoordig was, gekniel en in aanbidding gebuig. 30Koning Hiskia en die leiers het vir die Leviete gesê om die Here te loof met die woorde van Dawid en van Asaf, die siener. Hulle het toe die Here met vreugde geloof, gekniel en in aanbidding gebuig.
31 Hiskia het daarop gereageer en gesê: “Nou het julle julleself aan die Here gewy. Kom nader en bring slagoffers en •dankoffers na die huis van die Here.” Die geloofsgemeenskap het toe slagoffers en dankoffers nadergebring, en elkeen wie se hart daartoe bereid was, ook brandoffers. 32Die getal brandoffers wat die geloofsgemeenskap nadergebring het, was sewentig beeste, honderd ramme en tweehonderd lammers, dit alles as brandoffers vir die Here. 33Die •heilige gawes was seshonderd beeste en drieduisend stuks kleinvee. 34Daar was egter te min priesters, en hulle kon nie al die brandoffers afslag nie. Hulle stamgenote, die Leviete, het hulle bygestaan tot die werk voltooi was en totdat die ander priesters hulleself kon heilig. Die Leviete was immers meer nougeset om hulleself te heilig as wat die priesters was. 35En naas die brandoffers in oorvloed, was daar nog die vet van die maaltydoffers en die •drankoffers wat by die brandoffers hoort.
So is die dienswerk in die huis van die Here gereël. 36Hiskia en die hele volk was verheug oor wat God vir die volk voorsien het, want dit het skielik gebeur.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid