2 Kronieke 23

23
1 In die sewende jaar het Jojada moed bymekaargeskraap en die •aanvoerders van honderd, Asarja, seun van Jerogam, Ismael, seun van Joganan, Asarja, seun van Obed, Maäseja, seun van Adaja, en Elisafat, seun van Sigri, betrek om met hom 'n ooreenkoms aan te gaan. 2Hulle het in Juda rondgegaan en die Leviete byeengebring uit al die dorpe van Juda, en ook die familiehoofde van Israel. Hulle het in Jerusalem aangekom, 3en die hele geloofsgemeenskap het in die huis van God 'n verbond gesluit met die koning.
Jojada het vir hulle gesê: “Kyk, 'n seun van die koning moet, soos die Here beloof het, regeer oor die nageslag van Dawid. 4Dit is wat julle moet doen: 'n Derde van julle wat op die Sabbat aan diens is, naamlik die priesters en Leviete, moet by die drumpels wagstaan, 5'n derde by die koninklike paleis, en 'n derde by die Fondamentpoort. Die hele volk moet in die voorhowe van die huis van die Here wees. 6Niemand mag die huis van die Here binnegaan nie, behalwe die priesters en diegene van die Leviete wat diens doen. Net hulle mag ingaan, omdat hulle gewy is. Die hele volk moet egter die verpligtinge teenoor die Here nakom. 7Die Leviete moet reg rondom die koning stelling inneem, elkeen met sy wapens in sy hand. Enigeen wat die •tempel binnegaan, moet doodgemaak word. Julle moet by die koning wees wanneer hy ingaan en uitgaan.”
8Die Leviete en die hele Juda het gemaak net soos die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manne geneem, dié wat aan diens was op die Sabbat en dié wat van diens af was op die Sabbat, want die priester Jojada het nie die afdelings afgegee nie. 9Die priester Jojada het vir die aanvoerders van honderd die vegspiese, kleinskilde en ook rondeskilde wat aan koning Dawid behoort het, en in die huis van God was, gegee. 10Hy het al die manskappe, elkeen met sy wapen in sy hand, vanaf die regterkant van die tempel tot aan die linkerkant van die tempel laat staan, voor die altaar en voor die tempelgebou, rondom die koning. 11Toe bring hulle die seun van die koning uit en plaas die kroon en koninklike simbole op hom. So het hulle hom koning gemaak. Jojada en sy seuns het hom gesalf en uitgeroep: “Lank lewe die koning!”
12Toe Atalia die uitroepe hoor van die volk wat naderhardloop en die koning se lof besing, het sy na die volk in die huis van die Here gegaan. 13Sy sien toe, sowaar, daar staan die koning by sy pilaar by die ingang, en die aanvoerders met die trompette is by die koning, terwyl die hele volk van die land verheug is, op trompette blaas, en die sangers met musiekinstrumente voorgaan in die lofprysing. Toe skeur Atalia haar klere en roep uit: “Verraad! Verraad!”
14Die priester Jojada het toe aanvoerders van honderd, die bevelvoerders van die leër, laat uitgaan en vir hulle gesê: “Neem haar buite die kordon. Dié wat haar volg, moet met die swaard doodgemaak word.” Ja, die priester het gesê: “Julle mag haar nie in die huis van die Here doodmaak nie.” 15Hulle het haar beetgepak, en toe sy die ingang van die Perdepoort by die koninklike paleis bereik, is sy daar doodgemaak.
16 Jojada het 'n verbond gesluit tussen homself, die hele volk en die koning dat hulle die volk van die Here sal wees. 17 Die hele volk van die land het toe die tempel van Baäl binnegegaan en dit afgebreek. Sy altare en sy beelde het hulle stukkend gebreek, en vir Mattan, die priester van Baäl, het hulle voor die altare doodgemaak.
18Jojada het die toesig oor die huis van die Here in die hande van die Levitiese priesters gelaat, dié wat Dawid ingedeel het by die huis van die Here om •brandoffers vir die Here te bring, soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, en “met vreugderoepe en sang”, soos aangewys deur Dawid. 19Jojada het die poortwagte laat aantree by die poorte van die huis van die Here, sodat niemand wat in enige opsig •onrein was, kon ingaan nie. 20Hy het die aanvoerders van honderd, die magtiges, die heersers onder die volk en die hele volk van die land geneem en die koning uit die huis van die Here afgebring. Hulle het die koninklike paleis deur die Boonste Poort binnegegaan en die koning op die koninklike troon laat plaasneem. 21Die hele volk van die land was verheug, en die stad was rustig, al het hulle Atalia met die swaard doodgemaak.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid