2 Kronieke 20:14-30

2 Kronieke 20:14-30 AFR20

Jagasiël, seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, 'n Leviet uit die nageslag van Asaf, oor hom het die Gees van die HERE midde-in die byeenkoms gekom, en hy het gesê: “Luister mooi, die hele Juda, inwoners van Jerusalem en u, koning Josafat! So sê die HERE vir julle, ‘Julle moenie bang wees of julle laat afskrik deur hierdie groot menigte nie, want dit is nie julle geveg nie, maar God s'n. Trek môre af, teen hulle uit. Kyk, hulle gaan met die opdraande van Hassis opkom, en julle sal hulle by die eindpunt van die dal voor die Jeruelwoestyn aantref. Julle hoef nie in hierdie geval te veg nie. Neem stelling in, Juda en Jerusalem, staan en aanskou dan die verlossing deur die HERE wat met julle is! Moenie bang wees nie en moet julle nie laat afskrik nie. Trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees. ’ ” Toe kniel Josafat met sy gesig na die grond. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die HERE neergeval om voor die HERE in aanbidding te buig. Die Leviete uit die nageslag van Kehat en die nageslag van Korag het opgestaan om die HERE, die God van Israel, met baie harde stemme te loof. Hulle het vroeg die oggend opgestaan en uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Terwyl hulle uittrek, het Josafat gaan staan en gesê: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Vertrou op die HERE julle God, dan bly julle behoue; vertrou op sy profete, dan behaal julle sukses.” Nadat hy met die manskappe beraadslaag het, het hy sangers vir die HERE aangestel wat sy glansryke heiligheid moes loof terwyl hulle voor die gewapende manne uitgaan. Hulle moes sê: “Prys die HERE, want vir ewig duur sy troue liefde!” Die oomblik toe hulle met 'n jubelkreet 'n loflied begin sing, het die HERE 'n hinderlaag beskik teen die Ammoniete, Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle is verslaan. Die Ammoniete en Moabiete het teen die inwoners van die Seïrberge opgestaan om hulle aan volledige vernietiging oor te gee en uit te delg. Toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar help vernietig. En Juda, toe hulle by die uitkykpos in die woestyn kom en rondsoek na die menigte, kyk, toe lê daar net lyke op die grond, niemand het ontkom nie. Josafat en sy manskappe het gegaan om oorlogsbuit bymekaar te maak. Hulle kry toe groot hoeveelhede toerusting en klere, sowel as waardevolle artikels by hulle. Hulle het vir hulleself soveel gebuit dat hulle dit nie kon dra nie. Hulle was drie dae lank besig om oorlogsbuit bymekaar te maak, want daar was baie. Op die vierde dag het hulle in die Berakavallei byeengekom; ja, daar het hulle die HERE geprys. Daarom word daardie plek Vallei van Lofprysing genoem; dit is vandag nog so. Al die manne van Juda en Jerusalem het, met Josafat aan die voorpunt, omgedraai om vol vreugde na Jerusalem terug te keer, omdat die HERE hulle bly gemaak het oor hulle vyande. Hulle het Jerusalem binnegegaan met harpe, liere en trompette, op pad na die huis van die HERE. Vrees vir God het al die koninkryke van die lande oorval toe hulle hoor dat die HERE teen Israel se vyande geveg het. Josafat se koninkryk het rus gehad, want sy God het vir hom aan alle kante rus gegee.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Kronieke 20:14-30