2 Kronieke 19

19
1Josafat, die koning van Juda, het ongedeerd na sy paleis in Jerusalem teruggekeer. 2Die siener Jehu, seun van Ganani, het uitgegaan, en in sy gesig vir koning Josafat gesê: “Moes jy nou die goddelose help, en dié wat die Here haat, liefhê? Om hierdie rede sal 'n oordeel uit toorn van die Here af, teen jou losbreek. 3 Tog is daar by jou goeie dinge gevind, want jy het die asjeras uit die land uitgeroei en jou hart daarop gerig om God te soek.”
Aanstelling van regters
4Josafat het in Jerusalem gewoon, maar het weer uitgegaan tussen die mense, van Berseba af tot in die heuwelland van Efraim. Hy het hulle laat terugdraai na die Here, die God van hulle voorouers. 5Hy het regters aangestel in die land, in al die versterkte stede van Juda, stad vir stad. 6 Hy het vir die regters gesê: “Julle moet besef wat julle besig is om te doen, want julle spreek nie reg vir mense nie, maar vir die Here. Hy staan julle by in die regspraak. 7Daarom, laat vrees vir die Here julle lei. Tree nougeset op, want by die Here ons God is daar geen onreg, partydigheid of aanvaarding van omkoopgeskenke nie.”
8Ook in Jerusalem het Josafat van die Leviete, priesters en familiehoofde van Israel aangestel vir sake wat betrekking het op die wet van die Here, en vir gewone regsgeskille. Hulle het in Jerusalem gewoon. 9Hy het hulle beveel: “So moet julle optree: met ontsag vir die Here, met betroubaarheid en met onverdeelde harte. 10In enige regsaak wat voor julle kom, afkomstig van julle volksgenote wat in hulle dorpe woon, moet julle hulle waarsku, sodat hulle nie voor die Here skuldig staan nie – of dit nou gaan oor bloedwraak, of 'n beslissing in verband met 'n gebod, voorskrifte en bepalings – en daar dan nie 'n oordeel uit toorn teen julle en julle volksgenote losbreek nie. Julle moet so optree dat julle nie skuldig staan nie. 11Kyk, die hoofpriester Amarja is oor julle aangestel vir enige saak met betrekking tot die Here, en Sebadja, seun van Ismael, die leier van die huis van Juda, vir enige saak wat betrekking het op die koning. As opsieners is die Leviete tot julle beskikking. Wees onwrikbaar in julle optrede; en mag die Here met die goeies wees!”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid