1 Timoteus 6:1-5
1 Timoteus 6:1-5 AFR20
Wie onder die slawejuk gebuk gaan, moet met alle respek teenoor hulle eienaars optree, sodat die Naam van God en die leer nie belaster word nie. Diegene wat gelowige eienaars het, mag hulle nie verag nie, omdat hulle broers is; laat hulle nog meer diensbaar wees, juis omdat dit gelowiges en geliefdes is wat dié goeie diens ontvang. Onderrig die mense hierin, en moedig hulle aan om dit te doen. As iemand 'n ander leer verkondig, en hom nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus •Christus, en by die leer wat met die ware godvresendheid ooreenstem nie, is hy verwaand en sonder begrip, en het hy eerder 'n sieklike aptyt vir meningsverskille en stryery oor woorde. Dit lei tot afguns, rusie, lastering, bose suspisies, aanhoudende geredekawel onder mense wie se denke ontaard het, en wat van die waarheid beroof is, en dink dat godvresendheid winsgewend is.

