1 Thessalonisense 2:1-16

1 Thessalonisense 2:1-16 AFR20

Julle weet tog, broers, dat ons besoek aan julle nie vergeefs was nie; maar alhoewel ons, soos julle weet, vroeër in Filippi gely het en beledig is, het ons vrymoedigheid in ons God gehad om julle van God se evangelie te vertel, al was dit te midde van baie teenstand. Want ons pleidooi is nie uit dwaling, nie uit onsuiwerheid en nie met bedrog nie; maar, soos ons deur God goedgekeur is, sodat die evangelie aan ons toevertrou kon word, so praat ons ook nie om mense tevrede te stel nie, maar God, Hy wat ons harte toets. Want, soos julle weet, het ons ons nog nooit met vleiery opgehou nie, en ook nie met valse motiewe van inhaligheid nie – God is ons getuie! Ook het ons nie die eer van mense gesoek nie, nóg van julle, nóg van ander, alhoewel ons as •apostels van •Christus eise kon stel. Maar ons het klein kindertjies in julle midde geword. Soos wanneer 'n moeder haar eie kinders voed en koester, en omdat ons op hierdie wyse na julle verlang, so het ons dit goedgedink om nie net die evangelie van God aan julle mee te deel nie, maar selfs ook ons eie lewens – omdat julle vir ons geliefd geword het. Julle onthou tog ons moeite en harde werk, broers; terwyl ons bedags en snags gewerk het, sodat ons vir niemand van julle 'n las sou wees nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig. Julle is getuies, en ook God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons geword het vir julle wat glo. Net so weet julle ook hoe ons vir elkeen van julle soos 'n vader vir sy eie kinders was, terwyl ons julle vermaan en bemoedig, en aanspoor om 'n lewe te lei wat dié God waardig is wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid geroep het. En daarom dank ons God onophoudelik dat julle, nadat julle die woord van God van ons ontvang het, dit nie as 'n woord van mense aanvaar het nie, maar waarlik as die Woord van God – dié Woord wat werksaam is in julle wat glo. Want julle, broers, het die voorbeeld gevolg van die •gemeentes van God in Christus Jesus wat in Judea is, omdat julle dieselfde dinge onder julle eie mense gely het as hulle onder die Judeërs, hulle wat die Here Jesus en die profete doodgemaak, en ons ernstig vervolg het, wat God nie tevrede stel nie, en vyandig teenoor alle mense is, en wat ons verhinder om met die heidene te praat, sodat hulle verlos kan word. So het die Jode se sondes in elke opsig hulle volle maat bereik, en die oordeel het uiteindelik oor hulle gekom!

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Thessalonisense 2:1-16

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid