1 Samuel 8:1-22

1 Samuel 8:1-22 AFR20

Toe Samuel oud geword het, het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel. Sy eersgebore seun se naam was Joël en sy tweede seun se naam was Abia. Hulle was rigters in Berseba. Sy seuns het egter nie in sy voetspore gevolg nie. Hulle was uit op winsbejag, het omkoopgeskenke aanvaar en het die reg verdraai. Al die oudstes van Israel het toe byeengekom en na Samuel in Rama gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Kyk, u het oud geword, en u seuns volg nie in u voetspore nie. Stel dan nou vir ons 'n koning aan om ons te rig, soos dit by al die nasies is. ” Dit was egter verkeerd in die oë van Samuel dat hulle gesê het: “Gee vir ons 'n koning om ons te rig.” Samuel het toe tot die HERE gebid. Die HERE het vir Samuel gesê: “Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees. Dit stem ooreen met al die dade wat hulle gedoen het, van die dag dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe: Hulle het My verlaat en ander gode gedien. Presies so maak hulle nou ook met jou. Luister dan nou na hulle. Maar jy moet hulle net ernstig waarsku, en aan hulle die regte verduidelik van die koning wat oor hulle gaan regeer. ” Samuel het al die woorde van die HERE oorgedra aan die volk wat van hom 'n koning gevra het. Hy het gesê: “Dit sal die regte van die koning wees wat oor julle gaan regeer: Julle seuns sal hy vat en hulle vir hom aanstel by sy strydwa en sy span perde. Hulle sal voor sy strydwa uit moet hardloop. Hy sal hulle vir hom aanstel as •aanvoerders oor duisend en aanvoerders oor vyftig, om sy ploegland te ploeg, sy oes in te samel en om toerusting vir sy oorloë en vir sy strydwaens te maak. Julle dogters sal hy vat as salfmengers en as kokke en bakkers. Julle beste landerye, wingerde en olyfboorde sal hy vat en aan sy amptenare gee. Van julle graanoes en wingerdoes sal hy 'n tiende vat en vir sy paleisamptenare en dienaars gee. Julle slawe en slavinne, die keur van julle jong manne en donkies sal hy vat en vir sy eie werk gebruik. Van julle kleinvee sal hy 'n tiende vat. Julle self sal sy slawe wees. Julle sal op daardie dag om hulp roep oor julle koning wat julle vir julle verkies het, maar die HERE sal julle op daardie dag nie verhoor nie.” Die volk het egter geweier om na Samuel te luister. “Nee,” het hulle gesê, “maar daar moet 'n koning oor ons wees! Ons wil ook soos al die nasies wees, ons koning moet oor ons regeer, hy moet voor ons uit trek en ons oorloë vir ons voer.” Samuel het na al die woorde van die volk geluister en dit aan die HERE voorgelê. Die HERE het vir Samuel gesê: “Luister na hulle en stel vir hulle 'n koning aan.” Samuel het daarna vir die mense van Israel gesê: “Gaan elkeen dan nou na sy stad toe!”