1 Samuel 7:5-17

1 Samuel 7:5-17 AFR20

Samuel sê toe: “Bring die hele Israel by Mispa byeen, dan sal ek vir julle tot die HERE bid.” Hulle het by Mispa byeengekom, water geskep en dit voor die HERE uitgegiet. Hulle het daardie dag gevas en daar bely: “Ons het teen die HERE gesondig.” Samuel het die Israeliete by Mispa gerig. Toe die Filistyne hoor dat die Israeliete by Mispa byeengekom het, het die heersers van die Filistyne teen Israel opgetrek. Die Israeliete het dit gehoor en bang geword vir die Filistyne. Die Israeliete sê toe vir Samuel: “Moet tog nie oor ons stilbly en ophou om tot die HERE om hulp te roep nie, sodat Hy ons uit die hand van die Filistyne kan verlos.” Samuel het toe 'n suiplam geneem en dit as 'n volledige •brandoffer aan die HERE gebring. Samuel het tot die HERE om hulp geroep ter wille van Israel, en die HERE het hom verhoor. Terwyl Samuel nog die brandoffer bring, het die Filistyne nader beweeg vir die geveg teen Israel. Maar die HERE het op daardie dag harde donderslae laat dreun oor die Filistyne en hulle verwar. Hulle is toe voor Israel uit verslaan. Die manskappe van Israel het uit Mispa getrek en die Filistyne agtervolg en bly neervel, tot onderkant Bet-Kar. Toe het Samuel 'n klip geneem en dit tussen Mispa en Sen opgerig. Hy het dit Eben-Haeser genoem en gesê: “Tot hiertoe het die HERE ons gehelp.” Die Filistyne is op hulle knieë gedwing en hulle het nie weer in die gebied van Israel gekom nie. Die hand van die HERE was teen die Filistyne so lank as wat Samuel geleef het. Die stede wat die Filistyne van Israel afgeneem het, van Ekron af tot by Gat, het weer teruggeval na Israel. Ook die omliggende gebiede het Israel uit die hand van die Filistyne geruk. Daar was toe vrede tussen Israel en die Amoriete. Samuel het Israel gerig so lank as wat hy geleef het. Hy het van jaar tot jaar rondgegaan by Bet-El, Gilgal en Mispa, en Israel op al hierdie plekke gerig voordat hy teruggekeer het na Rama; want sy huis was daar. Daar het hy Israel gerig en daar het hy vir die HERE 'n altaar gebou.