1 Samuel 2:22-36

1 Samuel 2:22-36 AFR20

Eli was al baie oud. Toe hy hoor wat sy seuns alles aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap het met die vroue wat diens doen by die ingang van die •Tent van Ontmoeting, sê hy vir hulle: “Waarom doen julle hierdie dinge, dat ek telkens van julle slegte gedrag moet hoor by hierdie hele volk? Nee, my seuns! Want die gerug wat ek hoor besig is om onder die volk van die HERE te versprei, is nie goed nie. As een mens teen 'n ander mens sondig, kan God die saak vir hom beslis. Maar as dit teen die HERE is wat 'n mens sondig, wie sal dan sy saak behartig?” Hulle het egter nie na hulle vader geluister nie, want die HERE wou hulle om die lewe bring. Die seuntjie Samuel, daarenteen, het in aansien en guns gegroei, by sowel die HERE as by die mense. 'n Man van God het na Eli toe gekom en vir hom gesê: “So sê die HERE, ‘Het Ek My nie duidelik geopenbaar aan die huis van jou voorvader toe hulle in Egipte onderdanig was aan die huis van die farao nie? En het Ek hom nie vir My as priester gekies uit al die stamme van Israel om op te gaan na my altaar, om reukwerk te brand, en om die efod te dra in my teenwoordigheid nie? Ek het aan die familie van jou voorvader al die offergawes van die Israeliete gegee. Waarom vertrap julle my slagoffers en •graanoffers wat Ek vir my woning beveel het? Jy betoon meer eer aan jou seuns as aan My deur julleself vet te maak met die keur van al die graanoffers van Israel, my volk.’ “Daarom is die uitspraak van die HERE, die God van Israel, ‘Ek het uitdruklik gesê: “Jou huis en die huis van jou vader sal vir altyd in my teenwoordigheid diens doen.” ’ Maar nou is die uitspraak van die HERE, ‘Ek sal dit nooit toelaat nie! Want mense wat My eer, sal Ek eer; maar mense wat My minag, sal veragtelik wees. “ ‘ Kyk, die tyd kom dat Ek jou mag en die mag van jou vader se huis sal kortknip, sonder dat daar 'n bejaarde in jou huis sal wees. Jy sal met angs, met jaloesie, al die goeie wat Hy aan Israel doen, moet aanskou, terwyl daar nooit meer 'n bejaarde in jou huis sal wees nie. En as Ek iemand wat aan jou behoort van my altaar nie afsny nie, sal dit net wees om jou oë te laat verdof en jou lewenskrag te laat wegkwyn. En almal wat by jou huis gevoeg word, sal deur die swaard van mense sterf. En dit wat met jou twee seuns Hofni en Pinehas sal gebeur, sal reeds vir jou 'n teken wees: Op een dag sal hulle albei sterf. “ ‘Ek sal vir My 'n betroubare priester aanstel wat volgens my wil en wens sal optree. Ek sal vir hom 'n bestendige huis bou, sodat hy altyd voor my gesalfde sal diens doen. En elkeen wat oorbly in jou familie, sal kom om diep voor hom te buig vir 'n stukkie silwer en 'n ronde brood. En hulle sal sê: “Stel my asseblief aan by een van die priesterlike take, sodat ek 'n stukkie brood het om te eet.” ’ ”