1 Samuel 16:5-12

1 Samuel 16:5-12 AFR20

Hy het gesê: “Ja, vrede! Om aan die HERE 'n offer te bring – dit is waarvoor ek gekom het. Heilig julleself en kom saam met my na die •maaltydoffer.” Hy het Isai en sy seuns toe geheilig en hulle na die maaltydoffer genooi. Toe hulle inkom en hy vir Eliab sien, het hy gedink: “Sekerlik, hier staan, voor die HERE, sy gesalfde!” Maar die HERE het vir Samuel gesê: “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die HERE kyk na die hart.” Isai roep toe vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan; maar hy het gedink: “Ook hierdie een het die HERE nie gekies nie.” Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan; maar hy het gedink: “Ook hierdie een het die HERE nie gekies nie.” So het Isai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het vir Isai gesê: “Die HERE het hulle nie gekies nie.” Samuel vra toe vir Isai: “Is dit al die jong manne?” Hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar kyk, hy is besig om die kleinvee op te pas.” Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons gaan nie eet voordat hy hier aankom nie.” Hy het dit gedoen en hom toe laat inkom. Die seun was rooierig, met mooi oë en 'n goeie voorkoms. Die HERE sê toe: “Staan op, salf hom, want dit is hy.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid