1 Samuel 15:1-35

1 Samuel 15:1-35 AFR20

Samuel het vir Saul gesê: “Vir my het die HERE gestuur om jou as koning te salf oor sy volk Israel. Luister dan nou na die woorde van die HERE. So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Ek het raakgesien wat die Amalekiete aan Israel gedoen het, oor wat hulle vir Israel in die weg gelê het toe hy uit Egipte opgetrek het. Gaan dan nou en verslaan die Amalekiete. Julle moet alles wat aan hulle behoort, met die banvloek tref. Jy mag nie met hulle medelye hê nie. Jy moet man en vrou, kind en suigeling, bees en skaap, kameel en donkie, laat doodmaak.’ ” Daarop het Saul die manskappe opgeroep en hulle gemonster in Telaïm – tweehonderdduisend voetsoldate en tienduisend man uit Juda. Toe Saul by die stad van die Amalekiete aankom, het hy 'n hinderlaag in die dal opgestel. Saul het vir die Keniete gesê: “Gee pad! Kom weg daar tussen die Amalekiete, anders vernietig ek julle saam met hulle. Julle is die mense wat guns bewys het aan al die Israeliete toe hulle uit Egipte opgetrek het.” Die Keniete het toe onder die Amalekiete uit padgegee. Saul het die Amalekiete verslaan van Gawila af tot by Sur, wat langs Egipte lê. Hy het Agag, die koning van die Amalekiete, lewend gevange geneem, maar die hele volk het hy deur die swaard met die banvloek getref. Saul en die manskappe het Agag gespaar, asook die beste kleinvee en beeste, al die naasbestes, ook die ramme en alles wat goed was. Hulle wou dit nie met die banvloek tref nie; maar alles wat verwerplik en swak was, dié het hulle met die banvloek getref. Toe het die woord van die HERE tot Samuel gekom: “Ek is spyt dat Ek Saul as koning aangestel het, want hy het van My af weggedraai en my opdragte nie uitgevoer nie.” Samuel was ontsteld en het die hele nag na die HERE om hulp geroep. Samuel het vroeg die oggend opgestaan om Saul te gaan ontmoet. Samuel is meegedeel: “Saul het in Karmel aangekom, en hy het sowaar vir homself 'n gedenkteken opgerig. Toe het hy omgedraai en verder gegaan; hy is af na Gilgal toe.” Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: “Mag u geseënd wees deur die HERE! Ek het die opdrag van die HERE uitgevoer.” Maar Samuel vra toe: “Wat is dan die geblêr van kleinvee in my ore en die gebulk van beeste wat ek hoor?” Saul het geantwoord: “Hulle het dit van die Amalekiete af gebring; want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar, sodat hulle aan die HERE u God kan offer. Die res het ons met die banvloek getref.” Toe sê Samuel vir Saul: “Hou op, dat ek aan jou kan bekend maak wat die HERE vannag vir my gesê het.” Waarop Saul vir hom sê: “Praat!” Samuel sê toe: “Is jy nie, alhoewel jy klein is in jou eie oë, die hoof van die stamme van Israel nie? En het die HERE jou nie as koning gesalf oor Israel nie? Die HERE het jou op 'n pad gestuur. Hy het gesê, ‘Gaan tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek. Veg teen hulle totdat jy hulle uitgewis het.’ Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie, maar op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE?” Saul sê toe vir Samuel: “Ek het geluister na die stem van die HERE. Ek het gegaan op die pad waarop die HERE my gestuur het. Ek het Agag, die koning van die Amalekiete, saamgebring, maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die HERE u God in Gilgal te offer.” Daarop het Samuel geantwoord: “Is daar vir die HERE vreugde in •brandoffers en •maaltydoffers, soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as maaltydoffers, om te luister beter as die vet van ramme. Ja, opstandigheid is soos die sonde van waarsêery, en eiesinnigheid soos die euwel van huisgode. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. ” Toe sê Saul vir Samuel: “Ek het gesondig, ja, ek het die bevel van die HERE en u opdragte oortree, omdat ek bang was vir die manskappe en na hulle geluister het. Vergewe nou asseblief my sonde en gaan saam met my terug, sodat ek voor die HERE in aanbidding kan buig.” Maar Samuel het vir Saul gesê: “Ek sal nie saam met jou teruggaan nie. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het die HERE jou verwerp as koning oor Israel.” Toe Samuel omdraai om te loop, gryp Saul die soom van sy mantel, en dit het geskeur. Samuel sê toe vir hom: “Die HERE het vandag die koningskap van Israel van jou afgeskeur en Hy het dit aan jou medemens gegee wat beter as jy is. Verder, die Ewige van Israel breek nie sy woord nie, en Hy is nie spyt daaroor nie; Hy is immers nie 'n mens nie, dat Hy spyt sou kry nie. ” “Ek het gesondig,” het Saul gesê. “Handhaaf nou asseblief my eer voor die oudstes van my volk en voor Israel, en gaan saam met my terug, dat ek voor die HERE, u God, in aanbidding kan buig.” Samuel het toe teruggegaan, agter Saul aan, en Saul het voor die HERE in aanbidding gebuig. Samuel het gesê: “Bring Agag, die koning van die Amalekiete, na my toe.” Terwyl Agag in boeie na hom toe loop, het hy gedink: “Waarlik, die bitterheid van die dood het gewyk! ” Maar toe sê Samuel: “Soos jou swaard vroue kinderloos gemaak het, so word jou moeder kinderloos onder die vroue.” Samuel het Agag toe in stukke gekap voor die HERE in Gilgal. Samuel het na Rama gegaan, terwyl Saul opgegaan het na sy huis in Gibea van Saul. Samuel het tot die dag van sy dood nie weer vir Saul gesien nie, alhoewel Samuel oor Saul getreur het. Die HERE was spyt dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid