1 Samuel 13:1-15

1 Samuel 13:1-15 AFR20

Saul was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar lank oor Israel regeer. Saul het vir hom drieduisend man uit Israel gekies. Tweeduisend was by Saul in Migmas en in die bergland by Bet-El, en eenduisend was by Jonatan in Gibea in Benjamin. Die res van die manskappe het hy weggestuur, elkeen na sy woonplek toe. Jonatan het die Filistynse wagpos wat in Gibea was, aangeval, en die Filistyne het daarvan te hore gekom. Saul het in die hele land op die •ramshoring laat blaas om te laat weet: “Die Hebreërs moet dit hoor!” In die hele Israel is die nuus versprei: “Saul het die Filistynse wagpos aangeval; maar wat erger is, Israel is veragtelik gemaak by die Filistyne.” Die manskappe is toe opgeroep na Saul in Gilgal. Die Filistyne het saamgetrek om teen Israel te veg met dertig afdelings strydwaens, ses afdelings perderuiters en manskappe so talryk soos die sand wat langs die seestrand is. Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan in Migmas, oos van Bet-Awen. Die manne van Israel sien toe dat daar vir hulle moeilikheid wag, want die manskappe was vasgekeer. Die manskappe het toe in grotte, klipskeure, rotswande, grafte en opgaarputte gaan wegkruip. Van die Hebreërs het die Jordaan oorgesteek na die landstreke van Gad en Gilead. Saul was egter nog in Gilgal. Al die manskappe het hom bewend gevolg. Hy het sewe dae lank gewag vir die vasgestelde tyd waarvan Samuel gepraat het, maar toe Samuel nie in Gilgal opdaag nie, het die manskappe van Saul af gedros. Saul sê toe: “Bring vir my die •brandoffer en •maaltydoffers!” En hy het die brandoffer geoffer. En toe, net toe hy die brandoffer gebring het – daar kom Samuel aan! Saul het uitgegaan om hom te ontmoet en om hom te groet. Maar Samuel het gesê: “Wat het jy gedoen?” Waarop Saul toe antwoord: “Omdat ek gesien het dat die manskappe van my af gedros het, dat u self nie op die vasgestelde tyd opgedaag het nie, en dat die Filistyne by Migmas saamgetrek het, het ek gedink: Nou gaan die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, terwyl ek nog nie die HERE se guns gesoek het nie. Ek het toe moed bymekaargeskraap en die brandoffer geoffer.” Toe sê Samuel vir Saul: “Jy het dwaas opgetree. Jy het nie die opdrag van die HERE jou God, dit wat Hy jou beveel het, nagekom nie. Het jy dit maar gedoen! Want dan sou die HERE jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie standhou nie. Die HERE het vir Hom 'n man na sy hart uitgesoek, en die HERE het hom as leier volmag oor sy volk gegee, omdat jy dit wat die HERE jou beveel het, nie nagekom het nie.” Toe het Samuel opgestaan en van Gilgal af opgegaan na Gibea in Benjamin.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Samuel 13:1-15