1 Samuel 11:1-15

1 Samuel 11:1-15 AFR20

Nagas, die Ammoniet, het opgetrek en Jabes in Gilead beleër. Al die manne van Jabes sê toe vir Nagas: “Sluit met ons 'n ooreenkoms, dan sal ons u dien.” Maar Nagas, die Ammoniet, het vir hulle gesê: “Op hierdie voorwaarde sal ek 'n ooreenkoms met julle sluit: Wanneer ek elkeen van julle se regteroog uitsteek en daardeur skande oor die hele Israel bring.” Die oudstes van Jabes sê toe vir hom: “Laat ons sewe dae toe, sodat ons boodskappers deur die hele gebied van Israel kan stuur. As daar dan niemand is wat ons kan red nie, sal ons ons aan u oorgee.” Toe die boodskappers in Gibea van Saul aankom en die voorwaardes ten aanhore van die volk herhaal, het die hele volk hardop begin huil. Juis toe kom Saul van die land af terug, agter die osse aan. Saul vra toe: “Wat is dit met die volk dat hulle huil?” Hulle vertel hom toe wat die manne van Jabes gesê het. Die Gees van God het Saul oorweldig toe hy hierdie woorde hoor, en hy het baie kwaad geword. Hy neem toe twee osse, kap hulle op en stuur dit met boodskappers deur die hele gebied van Israel met die woorde: “Die een wat nie agter Saul en Samuel aan uittrek nie – so sal daar met sy osse gemaak word.” Vrees wat van die HERE kom, het die manskappe oorval, en hulle het soos een man uitgetrek. Saul het hulle in Besek gemonster – die Israeliete was driehonderdduisend, en die manne van Juda was dertigduisend. Hulle het vir die boodskappers wat daar aangekom het, gesê: “So moet julle vir die manne van Jabes in Gilead sê, ‘Môre sal daar vir julle redding wees wanneer die son warm is.’ ” Die boodskappers het gegaan, en toe hulle die manne van Jabes daaroor inlig, was hulle verheug. Die manne van Jabes het gesê: “Môre sal ons ons aan julle oorgee, en dan kan julle aan ons doen soos julle goeddink.” Die dag daarna het Saul die manskappe in drie eenhede opgestel. Hulle het die kamp teen die laaste nagwaak binnegeval en die Ammoniete bly neervel tot die dag op sy warmste was. Dié wat oorgebly het, is so uitmekaar gedryf dat daar nie twee van hulle meer bymekaar was nie. Die manskappe het vir Samuel gesê: “Wie het gesê, ‘Moet Saul oor ons koning wees?’ Lewer dié manne uit, sodat ons hulle kan doodmaak!” Maar Saul het gesê: “Niemand mag op hierdie dag doodgemaak word nie, want vandag het die HERE redding bewerk in Israel.” Samuel het vir die manskappe gesê: “Kom, laat ons na Gilgal gaan en die koningskap daar herbevestig.” Al die manskappe het toe na Gilgal gegaan en hulle het Saul daar in Gilgal, in die teenwoordigheid van die HERE, as koning ingehuldig. Hulle het daar voor die HERE •maaltydoffers geslag. Saul en al die manne van Israel was baie vrolik daar.