1 Petrus 2:1-17

1 Petrus 2:1-17 AFR20

Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, noudat “julle die goedheid van die Here gesmaak het”. Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; en laat julle as lewende klippe opbou tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. Daar staan immers in die Skrif: “Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer, 'n hoeksteen, uitverkore en kosbaar; maar wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie.” Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld, “Juis die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword, ” en “'n klip waaroor 'n mens kan struikel, ja, 'n rots wat jou kan laat val.” Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem. Julle, egter, is “'n uitverkore geslag”, “'n koninklike priesterdom”, “'n heilige nasie”, “'n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig – julle wat eers nie 'n volk was nie, maar nou volk van God is; wat eers nie ontferming ontvang het nie, maar nou ontferming ontvang het. Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die •siel. Gedra julle goed onder die heidene, sodat hulle, wanneer hulle julle beswadder, asof julle misdadigers is, God op die dag van besoeking kan verheerlik, omdat hulle julle goeie dade gesien het. Wees, ter wille van die Here, onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, as aan die prokurator – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, en dié wat goed doen, aan te prys. God wil immers hê dat julle, deur goed te doen, die onkunde van dwase mense stopsit. Leef as vry mense – nie soos hulle wat vryheid as dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as diensknegte van God. Julle moet alle mense respekteer, die medegelowiges met liefde bejeën, ontsag vir God hê, die keiser respekteer.