Toe het Salomo voor die altaar van die HERE gaan staan, reg voor die hele geloofsgemeenskap van Israel. Hy het sy hande na die hemel uitgestrek en gesê:
“HERE, God van Israel,
daar is geen god soos U
in die hemel daar bo
of op die aarde hier onder nie;
U wat die verbond en troue liefde
in stand hou vir u diensknegte
wat met hulle hele hart
voor U leef;
U wat ter wille van u dienskneg,
my vader Dawid,
gehou het by dit wat U hom
beloof het.
U het dit met u mond gesê
en met u hand volbring,
soos dit vandag is.
Daarom, HERE, God van Israel,
hou nou ter wille van u dienskneg,
my vader Dawid,
by wat U hom beloof het
toe U gesê het,
‘Daar sal nooit iemand
vir jou ontbreek
wat voor my aangesig
op die troon van Israel sit nie,
as jou seuns maar net ag slaan
op hulle optrede
deur voor My te leef
soos jy voor My geleef het.’
Daarom, o God van Israel,
laat u belofte wat U
aan u dienskneg,
my vader Dawid, gemaak het,
tog waar word.
“ Maar kan God werklik op aarde woon?
Kyk, die hemelruim en die hoogste
hemele kan U nie omvat nie –
hoeveel minder hierdie tempel
wat ek gebou het?
U moet aandag gee aan die gebed
van u dienskneg,
aan sy smeekbede,
HERE my God,
deur te luister
na die klaagroep,
na die gebed wat u dienskneg
vandag voor U bid,
dat u oë dag en nag oop sal wees
na hierdie tempel,
na die plek waarvan U gesê het,
‘My Naam sal daar wees,’
sodat U sal luister na die gebed
wat u dienskneg in die rigting
van hierdie plek rig.
Luister dan na die smeekbede
van u dienskneg
en van u volk Israel wat hulle
in die rigting van hierdie plek bid.
U self moet dit hoor tot by die plek
waar U woon, tot in die hemel.
U moet dit hoor,
en U moet vergewe.
“Wanneer iemand teen sy naaste sondig, en dié 'n verwensing uitspreek om 'n vloek oor hom te bring, en hy dan met die vervloeking voor u altaar in hierdie tempel kom, moet U self hoor in die hemel en optree en die reg handhaaf van u diensknegte deur die skuldige skuldig te verklaar, deur sy optrede op sy eie kop te laat neerkom, en die regverdige regverdig te verklaar deur aan hom te gee wat hy volgens sy regverdige optrede verdien.
“Wanneer u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en wanneer hulle na U terugkeer, u Naam prys en bid en by U smeek in hierdie tempel, moet U self hoor in die hemel. Vergewe dan die sonde van u volk Israel en laat hulle terugkeer na die grond wat U aan hulle voorouers gegee het.
“ Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën val nie omdat hulle teen U gesondig het, en hulle bid dan in die rigting van hierdie plek en prys u Naam en bekeer hulle van hulle sondes omdat U hulle verneder, moet U self hoor in die hemel en die sonde van u diensknegte en u volk Israel vergewe, want U leer hulle die goeie pad waarop hulle moet gaan. Gee dan reën oor u land, wat U vir u volk as erfenis gegee het.
“ Wanneer daar hongersnood in die land is, wanneer pessiektes uitbreek, wanneer skroeisiekte, witroes, treksprinkane, kaalvreters toeslaan, wanneer u volk se vyand hom beleër in van sy stede in die land – tydens enige plaag, enige siekte – en daar enige gebed is, enige smeekbede by enige mens, by enigiemand van u volk Israel wat elkeen die teistering van sy eie hart ken, en hy dan sy hande na hierdie tempel uitstrek, moet U self hoor in die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan vergewe en optree en met elkeen handel volgens al sy dade, U wat sy hart ken – U alleen ken immers die harte van alle mensekinders – sodat hulle vir U ontsag mag hê solank as wat hulle leef op die grond wat U vir ons voorouers gegee het.
“ En ook die buitelander wat nie deel van u volk Israel is nie, maar uit 'n ver land kom ter wille van u Naam – ja, hulle sal hoor van u groot Naam en u sterk hand en uitgestrekte arm – wanneer hy dan kom en in die rigting van hierdie tempel bid, moet U self hoor in die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan optree volgens alles waaroor die buitelander U aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, dat hulle vir U ontsag mag hê, soos u volk Israel, en sal besef dat dit u Naam is wat uitgeroep is oor hierdie tempel wat ek gebou het.