1 Konings 7

7
Salomo se paleiskompleks
1 Aan sy paleis het Salomo dertien jaar lank gebou, en toe was sy hele paleis voltooi. 2Hy het die saal, Bos van die Libanon, gebou, met vier rye pilare van sederhout, en balke van sederhout op die pilare; dit was honderd el lank, vyftig el breed en dertig el hoog. 3Dit was bo bedek met sederhout, oor die balke wat op die pilare gerus het. Daar was vyf-en-veertig balke, vyftien in 'n ry. 4Daar was drie rye vensteropeninge, telkens regoor mekaar, in groepe van drie. 5Al die ingange en openinge het vierkantige rame gehad. Teenoor elke opening was daar 'n opening, in groepe van drie.
6Die suilesaal het hy vyftig el lank en dertig el breed gemaak. Daar was 'n portaal aan die voorkant, en pilare met 'n afskorting voor. 7Hy het die troonsaal gemaak, die regsaal, waar hy regspraak moes lewer. Dit was bedek met sederhout van die vloer tot by die dakbalke. 8Sy paleis waarin hy sou woon, wat deur 'n ander voorhof vanuit die troonsaal bereik kon word, is op dieselfde wyse gebou. Vir die farao se dogter wat Salomo as vrou geneem het, sou hy 'n woning oprig op dieselfde wyse as hierdie saal.
9Al hierdie bouwerk is gedoen met klippe van goeie gehalte, volgens die afmetings van gekapte klip, afgewerk met 'n klipsaag aan die binne- en buitekant – van die fondament af tot by die dakrant en buite tot by die groot voorhof. 10Die fondament is gelê met groot klippe van goeie gehalte, klippe van tien el en klippe van agt el. 11Van daar af boontoe was dit klippe van goeie gehalte, volgens maat gekap, en sederhout. 12 Rondom 'n groot voorhof was daar drie lae gekapte klip en 'n laag sederhoutbalke, net soos by die binneste voorhof van die huis van die Here en die portaal van die •tempel.
Inhoud van die tempel
13Daarna het koning Salomo vir Hiram van Tirus af ontbied. 14 Hy was die seun van 'n weduwee uit die stam van Naftali, maar sy vader was 'n man uit Tirus, 'n bewerker van brons. Hy het beskik oor die vaardigheid, insig en kennis om alle soorte bronswerk te doen. Hy het by koning Salomo aangekom en al die werk uitgevoer wat aan hom opgedra is.
15 Hiram het die twee bronspilare gegiet. Agttien el was die hoogte van elke pilaar, en 'n maatlyn van twaalf el kon die tweede pilaar omspan. 16Verder het hy twee kapitele van gegote brons gemaak om op die koppe van die pilare te plaas. Die hoogte van die een kapiteel was vyf el, en die hoogte van die ander kapiteel was vyf el. 17Gevlegte traliewerk en kranse, gevorm met kettinkies, was aan die kapitele wat op die koppe van die pilare was – sewe rye aan die een kapiteel en sewe rye aan die ander kapiteel. 18Hy het die pilare gemaak met twee rye granate om die een strook vlegwerk. Dit was om die kapitele te bedek wat op die kop van die pilare was. Hy het net so gemaak met die tweede kapiteel.
19Die kapitele wat op die kop van die pilare in die portaal was, was gevorm soos 'n narsing, vier el hoog; 20dit is nou die kapitele op albei die pilare aan die bokant, net langs die ronding wat oorloop in die vlegwerk. Daar was tweehonderd granate in rye gerangskik, rondom elkeen van die kapitele. 21 Hy het die pilare opgerig by die portaal van die hoofvertrek. Hy het 'n pilaar aan die regterkant opgerig en dit Jagin genoem; hy het ook 'n pilaar aan die linkerkant opgerig en dit Boas genoem. 22Die bopunt van die pilare het die vorm van 'n narsing gehad. So is die werk aan die pilare afgehandel.
23 Toe het hy die See gemaak, 'n gietstuk, tien el van rand tot rand, sirkelvormig en vyf el hoog. 'n Maatlyn van dertig el kon dit omspan. 24Daar was •kolokwinte reg rondom aan die onderkant van die rand, tien kolokwinte per el rondom die See gerangskik. Die twee rye kolokwinte is in een stuk gegiet saam met die See. 25Dit het op twaalf beeste gestaan – drie wat noord kyk, drie wat wes kyk, drie wat suid kyk en drie wat oos kyk. Die See het bo-op hulle gerus, en al hulle agterlywe was na binne gekeer. 26Die dikte van die wand was 'n handbreedte, en die rand was soos dié van 'n beker, soos die kelk van 'n narsing. Dit kon tweeduisend bat hou.
27 Hy het tien verskuifbare staanders van brons gemaak. Elke staander was vier el lank, vier el breed en drie el hoog. 28Dit is hoe die staanders gemaak is: Dit het rame gehad, met raamwerk tussen die dwarssporte. 29Op die raamwerk wat tussen die dwarssporte was, was daar leeus, beeste en gerubs, en so ook op die dwarssporte aan die bokant. Aan die onderkant van die leeus en beeste was daar randversierings uitgeklop. 30Daar was vier bronswiele aan elke staander, met bronsasse. Die vier hoekstyle het steunpunte gehad. Die steunpunte was onder die waskom vasgegiet; teenoor elkeen was daar randversierings. 31Die opening in die staander was binne-in die kroonlys, een el diep. Die opening was rond, gevorm as 'n voetstuk van een en 'n half el. Selfs aan die opening was daar graveerwerk. Die rame was egter vierkantig, nie rond nie. 32Die vier wiele was aan die onderkant van die rame, en die asse van die wiele was aan die staander vas. Die hoogte van elke wiel was een en 'n half el. 33Die wiele se vorm was dieselfde as dié van 'n strydwa: Die asse, vellings, speke en nawe was alles gegiet. 34Daar was vier steunstukke aan die vier hoeke van elke staander vas. Dit was 'n deel van die staander. 35Bo die staander het 'n sirkelvormige rand 'n halwe el hoog uitgestaan. En bo-aan die staander was die handvatsels en rame deel daarvan.
36Hiram het gerubs, leeus en palmette gegraveer op die plat dele van die handvatsels en die raamwerk, oral waar daar plek was, met randversierings rondom. 37So het hy dan die tien staanders gemaak, eenders gegiet, met dieselfde mate en dieselfde vorm vir almal.
38 Daarna het Hiram tien bronswaskomme gemaak: elke waskom kon veertig bat hou; elke kom was vier el in deursnee en op elk van die tien staanders was daar een kom. 39So het hy die verskuifbare staanders geplaas: vyf aan die regterkant van die tempel en vyf aan die linkerkant van die tempel. Die See het hy in die regterflank van die tempel geplaas, in die suidoostelike hoek. 40 Daarna het Hiram die houers, skoppies en offerbakke gemaak.
So het Hiram al die werk afgehandel wat hy vir koning Salomo in die huis van die Here moes doen:
41twee pilare;
die twee bolvormige kapitele wat aan die bopunte van die twee pilare was;
die twee stelle vlegwerk waarmee die twee bolvormige kapitele wat aan die bopunte van die pilare was, bedek is;
42die vierhonderd granate vir die twee stelle vlegwerk om die twee bolvormige kapitele wat aan die bopunte van die pilare was, te bedek – twee rye granate vir elke stel vlegwerk;
43die tien verskuifbare staanders;
die tien waskomme op die staanders;
44die een See;
die twaalf beeste onder die See;
45die houers, skoppies en offerbakke.
Al hierdie voorwerpe wat Hiram vir koning Salomo gemaak het vir die huis van die Here was van gepoleerde brons. 46In die omgewing van die Jordaan, tussen Sukkot en Saretan, het die koning dit in kleivorms gegiet. 47Omdat al hierdie voorwerpe so uitermate swaar was, het Salomo dit nie geweeg nie. Die gewig van die brons kon nie vasgestel word nie.
48Salomo het al die voorwerpe wat in die huis van die Here was, gemaak:
die goue altaar;
die tafel van goud waarop die vertoonbrode was;
49 die menoras van fyngoud – vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant – voor die heiligdom;
die goue blomknoppe, lampe en snuiters;
50die bakke, messe, offerbakke, skottels en die vuurpanne van fyngoud;
die goue beslag vir die deure na die binneste vertrek, die Allerheiligste, en vir die deure na die tempel, die hoofvertrek.
51 Toe al die werk wat koning Salomo aan die huis van die Here gedoen het, afgehandel was, het Salomo die •heilige gawes van sy vader Dawid, die silwer en goud en ander voorwerpe, na binne geneem en dit in die skatkamers van die huis van die Here geplaas.

Tans Gekies:

1 Konings 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid