1 Konings 5

5
Voorbereidings vir die bou van die tempel
1 Hiram, die koning van Tirus, het sy amptenare na Salomo gestuur, want hy het gehoor dat hulle hom as koning gesalf het in die plek van sy vader. Hiram was immers altyd 'n vriend van Dawid. 2Salomo stuur toe aan Hiram 'n boodskap: 3“ U weet self dat my vader Dawid nie in staat was om 'n •tempel vir die Naam van die Here sy God te bou nie, vanweë die oorlog wat sy vyande aan alle kante teen hom gevoer het, totdat die Here hulle aan hom onderwerp het. 4 Maar nou het die Here my God vir my rus gegee aan alle kante. Daar is geen teenstander en geen dreigende onheil nie. 5Kyk, ek dink daaraan om 'n tempel vir die Naam van die Here my God te bou, soos die Here vir my vader Dawid gesê het, ‘Jou seun wat Ek in jou plek op jou troon sal plaas, dit is hy wat die tempel vir my Naam sal bou.’ 6Gee dan nou opdrag, sodat daar vir my seders gekap word in die Libanon. My dienaars sal u dienaars bystaan. Die loon vir u dienaars sal ek aan u gee, wat ook al u vra. U weet immers self dat daar niemand onder ons is wat weet hoe om bome te kap soos die Sidoniërs nie.”
7Toe Hiram Salomo se woorde hoor, was hy baie ingenome en het gesê: “Die Here moet vandag geprys word, Hy wat vir Dawid 'n wyse seun gegee het oor hierdie groot volk.” 8Hiram stuur toe vir Salomo die volgende boodskap: “Ek het gehoor wat u my laat weet het. Van my kant af sal ek alles doen wat u verlang in verband met die sederhout en sipreshout. 9My dienaars sal dit vanaf die Libanon afbring na die see, dan sal ek daarvan vlotte maak op die see en dit neem tot by die plek waaroor u my sal inlig. Ek sal dit daar uitmekaar haal, dan kan u dit laat haal. U moet doen wat ek verwag deur voedsel aan my hofhouding te verskaf.”
10So het Hiram aan Salomo seder- en sipreshout verskaf, soveel as wat hy wou hê, 11 en Salomo het vir Hiram twintigduisend kor koring gegee as voedselvoorraad vir sy hofhouding, asook twintig kor geparste olyfolie. Dit is hoeveel Salomo jaar vir jaar aan Hiram gelewer het. 12Dit was die Here wat wysheid aan Salomo gegee het, net soos Hy hom beloof het. Daar was vrede tussen Hiram en Salomo, en hulle twee het 'n verdrag gesluit.
13Koning Salomo het uit die hele Israel mense vir verpligte diens opgekommandeer. Die dienswerkers was dertigduisend man. 14Hy het hulle na die Libanon gestuur, tienduisend per maand in skofte. Vir 'n maand was hulle op die Libanon, en vir twee maande tuis. Adoniram was in bevel van die dwangarbeid. 15 Dan het Salomo ook sewentigduisend draers en tagtigduisend klipkappers in die bergland gehad. 16Dit was afgesien van Salomo se hoofopsigters oor die werk – drieduisend driehonderd van hulle wat in beheer was van die mense wat die werk moes doen.
17 Die koning se opdrag was dat hulle groot klippe, klippe van goeie gehalte, moes uitbreek, sodat hulle die fondament van die tempel met gekapte klip kon lê. 18Salomo se bouers, Hiram se bouers en die manne van Gebal het die klip reggekap, en die hout en klip voorberei vir die bou van die tempel.

Tans Gekies:

1 Konings 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid