Daar het hy in 'n grot ingegaan en daar oornag. En kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom. Hy het vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die HERE, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem. ” Maar Hy sê: “Gaan uit en staan op die berg voor die HERE. Kyk, die HERE sal weldra verbygaan.” Daar was 'n geweldige sterk wind wat die berge geskeur het, wat die rotse verbrysel het voor die HERE; in die wind was die HERE nie. Ná die wind was daar 'n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. Ná die aardbewing was daar vuur; in die vuur was die HERE nie. Ná die vuur was daar 'n sagte gesuis. Toe Elia dit hoor, het hy dadelik sy gesig met sy mantel bedek. Hy het uitgegaan en by die ingang van die grot gaan staan. Meteens was daar 'n stem wat vir hom vra: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die HERE, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem.” Toe sê die HERE vir hom: “Gaan terug op jou pad deur die woestyn, na Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael as koning salf oor Aram. Jehu, seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel, en Elisa, seun van Safat, uit Abel-Megola, moet jy salf as profeet in jou plek. Wie aan die swaard van Gasael ontkom – Jehu sal hom doodmaak, en wie aan die swaard van Jehu ontkom – Elisa sal hom doodmaak. Maar Ek het in Israel seweduisend laat oorbly. Dit is al die knieë wat nie voor Baäl gebuig het nie en elke mond wat hom nie gesoen het nie.”
Lees 1 Konings 19
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 Konings 19:9-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's