Hy het bang geword, gereedgemaak en uit vrees vir sy lewe padgegee. Toe hy in Berseba, wat aan Juda behoort, aankom, het hy sy dienaar daar agtergelaat.
Hy self het egter die woestyn in gegaan, 'n dagreis ver. Daar aangekom, het hy onder 'n witbesembos gaan sit en gevra dat sy lewe tot 'n einde moet kom. Hy het gesê: “Dit is nou genoeg, HERE! Neem my lewe, want ek is nie beter as my voorouers nie.” Hy het gaan lê en aan die slaap geraak onder die enkele witbesembos.
Skielik was daar 'n engel wat hom aanraak en vir hom sê: “Staan op, eet!” Toe hy rondkyk, is daar sowaar by sy kop 'n roosterkoek op gloeiende kole gebak en 'n fles met water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Maar die •engel van die HERE het 'n tweede keer teruggekom, hom aangeraak en gesê: “Staan op, eet! Want die reis gaan vir jou te veeleisend wees.” Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Met die krag van daardie voedsel het hy veertig dae en veertig nagte geloop, tot by Horeb, die berg van God. Daar het hy in 'n grot ingegaan en daar oornag.
En kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom. Hy het vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die HERE, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem. ” Maar Hy sê: “Gaan uit en staan op die berg voor die HERE. Kyk, die HERE sal weldra verbygaan.”
Daar was 'n geweldige sterk wind
wat die berge geskeur het,
wat die rotse verbrysel het
voor die HERE;
in die wind was die HERE nie.
Ná die wind was daar
'n aardbewing;
in die aardbewing was die HERE nie.
Ná die aardbewing was daar
vuur;
in die vuur was die HERE nie.
Ná die vuur was daar
'n sagte gesuis.
Toe Elia dit hoor, het hy dadelik sy gesig met sy mantel bedek. Hy het uitgegaan en by die ingang van die grot gaan staan.
Meteens was daar 'n stem wat vir hom vra: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die HERE, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem.” Toe sê die HERE vir hom: “Gaan terug op jou pad deur die woestyn, na Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael as koning salf oor Aram. Jehu, seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel, en Elisa, seun van Safat, uit Abel-Megola, moet jy salf as profeet in jou plek. Wie aan die swaard van Gasael ontkom – Jehu sal hom doodmaak, en wie aan die swaard van Jehu ontkom – Elisa sal hom doodmaak. Maar Ek het in Israel seweduisend laat oorbly. Dit is al die knieë wat nie voor Baäl gebuig het nie en elke mond wat hom nie gesoen het nie.”