1 Konings 18:16-45

1 Konings 18:16-45 AFR20

Obadja het Agab tegemoetgegaan en hom ingelig. Daarop het Agab gegaan om Elia te ontmoet. Toe Agab vir Elia sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, die een wat Israel in die ongeluk stort? ” Maar hy antwoord: “Ek het Israel nie in die ongeluk gestort nie, maar dit is jy en jou familie, deurdat julle die gebooie van die HERE verontagsaam het, en deurdat jy agter die Baäls aangeloop het. Daarom, stuur boodskappers uit, bring die hele Israel by my byeen op die berg Karmel, ook die vierhonderd-en-vyftig profete van Baäl en die vierhonderd profete van Asjera wat aan die tafel van Isebel eet.” Agab het boodskappers uitgestuur na al die Israeliete, en die profete byeengebring by die berg Karmel. Elia het nader gegaan na die hele volk en gesê: “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die HERE God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom. ” Maar die volk het hom nie met 'n enkele woord geantwoord nie. Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as die profeet van die HERE, maar die profete van Baäl is vierhonderd-en-vyftig man. Hulle moet vir ons twee bulle gee. Hulle moet vir hulle 'n bul kies, dit opsny en op die hout neersit, maar kole vuur mag hulle nie gebruik nie. Ek sal die ander bul voorberei en op die hout plaas, maar kole vuur sal ek nie gebruik nie. Dan moet julle die naam van julle god aanroep, en ek sal die Naam van die HERE aanroep. Die god wat met vuur antwoord, Hy is God. ” Die hele volk het daarop gereageer en gesê: “Dit is goed so.” Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle 'n bul en berei eerste voor, want julle is die meeste. Roep dan die naam van julle god aan, maar kole vuur mag julle nie gebruik nie.” Hulle neem toe die bul wat vir hulle gegee is, berei dit voor en roep van die oggend tot die middag die naam van Baäl aan, met die woorde: “Baäl, antwoord ons!” Maar daar was geen stem nie en niemand wat antwoord nie. Hulle het hink-hink gedans by die altaar wat voorberei is. Teen die middag het Elia hulle gespot en gesê: “Roep harder, want hy is mos 'n god! Hy is dalk ingedagte, of hy sonder hom af, of is op pad. Dalk is hy aan die slaap en moet wakker word.” Hulle het toe harder geroep en, soos hulle gewoonte was, hulleself met swaarde en steekspiese stukkend gekerf totdat die bloed oor hulle geloop het. Ná die middag het hulle waansinnig te kere gegaan, totdat dit tyd was vir die bring van die •graanoffer. Daar was egter geen stem nie, nie een wat antwoord nie, en geen reaksie nie. Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom nader na my toe!” Die hele volk het nader gestaan na hom toe. Hy herstel toe die altaar van die HERE wat afgebreek was. Elia het twaalf klippe geneem, in ooreenstemming met die getal van die stamme van die seuns van Jakob, vir wie die HERE gesê het: “Israel sal jou naam wees.” Hy het met die klippe in die Naam van die HERE 'n altaar gebou en 'n watervoor wat ongeveer twee sea saad kon hou, rondom die altaar gegrawe. Hy het die hout gerangskik, die bul opgesny en op die hout neergesit. Toe sê hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit oor die •brandoffer en die hout.” Hy sê toe: “Doen dit weer!” Hulle het dit weer gedoen. Daarna sê hy: “Doen dit 'n derde keer!” Hulle het dit 'n derde keer gedoen. Die water het rondom die altaar geloop. Die water het selfs die voor volgemaak. Toe dit tyd was vir die bring van die graanoffer, het Elia, die profeet, na vore getree en gesê: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God is in Israel en dat ek u dienskneg is, en dat dit op gesag van u woord is dat ek al hierdie dinge gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan weet dat U, HERE, die God is, en dat dit U is wat hulle harte weer laat terugkeer.” Toe slaan die vuur van die HERE neer en verteer die brandoffer, die hout, die klippe en die los grond. Dit het selfs die water wat in die sloot was, opgelek. Toe die hele volk dit sien, val hulle neer met hulle gesigte teen die grond en sê: “Die HERE, Hy is God! Die HERE, Hy is God!” Elia sê toe vir hulle: “Gryp die profete van Baäl! Niemand van hulle moet wegkom nie!” Hulle het hulle gegryp, en Elia het hulle afgeneem na die spruit Kison en hulle daar omgebring. Daarna sê Elia vir Agab: “Gaan! Eet en drink, want ek hoor die geruis van reën.” Agab het gegaan om te eet en drink, maar Elia het na die kruin van Karmel opgegaan en geboë op die grond gaan sit met sy kop tussen sy knieë. Hy het vir sy dienaar gesê: “Gaan asseblief boontoe en kyk uit in die rigting van die see.” Hy gaan toe boontoe en kyk uit, maar sê: “Daar is niks nie.” Elia sê toe: “Gaan weer! Doen dit sewe keer!” Die sewende keer sê hy toe: “Daar kom 'n wolkie so klein soos die palm van 'n man se hand uit die see op!” Toe sê Elia: “Gaan! Sê vir Agab, ‘Span in en gaan af, sodat die reën jou nie terughou nie.’ ” In 'n oogwink het die hemelruim donker geword van wolke en wind, en 'n geweldige reënbui het uitgesak. Agab het op sy strydwa geklim en na Jisreël gegaan.