1 Konings 10:1-8

1 Konings 10:1-8 AFR20

Die koningin van Skeba het die berigte oor Salomo bly hoor, iets wat die Naam van die HERE tot eer gestrek het. Sy het toe gekom om hom met raaisels te toets. Sy het in Jerusalem aangekom met 'n baie groot gevolg – kamele gelaai met speserye, groot hoeveelhede goud, asook edelstene. Toe sy by Salomo kom, het sy met hom gepraat oor alles wat sy op die hart gehad het. Salomo het vir haar verklarings gegee vir al die sake wat sy aangeroer het. Daar was geen saak vir die koning verborge nie, geen saak waaroor hy nie vir haar 'n verklaring kon gee nie. Toe die koningin van Skeba al die wysheid van Salomo sien, ook die paleis wat hy gebou het, die kos op sy tafel, die plasing van sy amptenare, sy bediendes wat gereed staan, hulle uitrustings, sy skinkers en die •brandoffers wat hy bring in die huis van die HERE, is haar asem weggeslaan. Sy sê toe vir die koning: “Die berig wat ek in my land gehoor het oor u prestasies en u wysheid was werklik waar. Maar ek het die berigte nie geglo nie, totdat ek gekom en dit met my eie oë gesien het. Kyk, die helfte is my nie vertel nie! In wysheid en welvaart oortref u die gerugte wat ek gehoor het. Hoe gelukkig is u manne, hoe gelukkig hierdie dienaars van u, hulle wat voortdurend in u diens staan, hulle wat u wysheid aanhoor!