My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, sodat julle nie moet sondig nie; en wanneer iemand sondig, het ons Jesus •Christus, die Regverdige, as Parakleet by die Vader. En Hy is die versoening vir ons sondes – nie net vir óns sondes nie; maar ook vir dié van die hele wêreld.
En dit is hoe ons weet dat ons Hom ken: As ons sy gebooie onderhou. Iemand wat sê, “Ek ken Hom,” maar sy gebooie nie onderhou nie, is 'n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie; maar wie sy woorde gehoorsaam – in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword, en hieruit weet ons dat ons in Hom is. Wie sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te leef soos Hy geleef het. Geliefdes, dit is nie 'n nuwe gebod waaroor ek aan julle skryf nie, maar 'n ou gebod, wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die woord wat julle gehoor het. Tog is dit 'n nuwe gebod wat ek aan julle voorskryf, wat in Hom en in julle 'n werklikheid is, omdat die duisternis besig is om verby te gaan, en die ware lig reeds skyn. Iemand wat sê dat hy in die lig is, maar sy broer haat, is steeds in die duisternis. Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie. Maar wie sy broer haat, is in die duisternis, en wandel in die duisternis, en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë blind gemaak het.
Ek skryf aan julle, kinders,
omdat julle sondes vergewe is
op grond van sy Naam.
Ek skryf aan julle, vaders,
omdat julle Hom ken
wat van die begin af was.
Ek skryf aan julle, jong mense,
omdat julle die Bose oorwin het.
Ek skryf aan julle, kinders,
omdat julle die Vader ken.
Ek skryf aan julle, vaders,
omdat julle Hom ken
wat van die begin af was.
Ek skryf aan julle, jong mense,
omdat julle sterk is,
en die woord van God in julle bly,
en julle die Bose oorwin het.
Moenie die wêreld, of wat in die wêreld is, liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie, want alles in die wêreld – dit wat die liggaam begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings – is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid.