Dit was die manne wat na Dawid gekom het in Siklag toe hy nog uitgesluit was uit die teenwoordigheid van Saul, seun van Kis. Hulle was onder die helde wat bystand verleen het in die oorlog. Gewapen met boë, kon hulle regs- of linkshandig gooi met 'n slingervel, of skiet met pyl en boog. Hulle was van die stamgenote van Saul uit Benjamin:
Die hoof was Agiëser;
dan Joas, seun van Semaä, uit Gibea;
Jesiël en Pelet, seuns van Asmawet;
Beraka en Jehu uit Anatot;
Jismaja uit Gibeon, 'n held onder die dertig en in beheer van die dertig;
Jeremia, Jagasiël, Joganan en Josabad uit Gedera;
Elusai, Jerimot, Bealja, Semarja en Sefatja uit Garif;
Elkana, Jissija, Asarel, Joëser en Jasobam, die Koragiete;
Joëla en Sebadja, seuns van Jerogam, uit Gedor.
Van die mense van Gad het oorgeloop na Dawid, na die bergvesting in die woestyn, dapper manne, krygsmanne gereed vir die geveg, toegerus met grootskild en steekspies. Hulle gesigsuitdrukkings was soos dié van leeus, en soos gaselle op die berge, so vinnig was hulle.
Eser was die hoof,
Obadja die tweede,
Eliab die derde,
Mismanna die vierde,
Jeremia die vyfde,
Attai die sesde,
Eliël die sewende,
Joganan die agtste,
Elsabad die negende,
Jeremia die tiende, Magbannai die elfde.
Hierdie manne was uit die nageslag van Gad, leërhoofde; net een, die geringste, was die gelyke van 'n honderd, en die belangrikste, die gelyke van 'n duisend. Dit was hierdie manne wat die Jordaan oorgesteek het in die eerste maand, terwyl dit vol was tot oor al sy walle, en water al die valleie aan die ooste- en westekant versper het.
Toe daar van die nageslag van Benjamin en Juda na die bergvesting, na Dawid, gekom het, het Dawid uitgegaan, voor hulle gaan staan en vir hulle gesê: “As julle in vrede na my gekom het om my te help, is ek dit met julle van harte eens. Maar as julle gekom het om my aan my teenstanders te verraai, terwyl daar nie geweld aan my handpalms kleef nie, mag die God van ons voorouers dit sien en straf.”
Toe het 'n gees van Amasai, die hoof van die dertig, besit geneem, en hy het gesê:
“Ons is vir u, Dawid,
en saam met u, seun van Isai!
Vrede, vrede vir u,
en vrede vir die wat u help,
want u God help u!”
Dawid het hulle aanvaar en hulle as hoofde van die troepe aangestel.