Titus 2
2
Hoe verskillende groepe mense die Here moet dien
1Titus, jy moet vir die mense die dinge leer wat pas by die goeie dinge wat óns vir die mense geleer het. 2Jy moet vir die ouer mans sê hulle moet reg besluit, hulle moet reg lewe, hulle moet weet hoe om reg te lewe. Hulle moet geestelik sterk en gesond wees, hulle moet aanhou om in Christus te glo, hulle moet lief wees vir mense, hulle moenie ophou om dit te doen nie. 3Jy moet ook vir die ouer vroue sê hulle moet lewe soos mense wat aan die Here behoort. Hulle moenie skinder oor ander mense nie en hulle moenie te veel wyn drink nie, hulle moet goeie dinge vir die mense leer. 4Dan kan hulle vir die jonger vroue leer om lief te wees vir hulle mans en hulle kinders. 5Die jonger vroue moet weet hoe om reg te lewe en hulle moet heeltemal reg lewe. Hulle moet goed sorg vir hulle huisgesinne en hulle moet gehoorsaam wees aan hulle mans. Dan sal ander mense nie sleg kan praat oor die boodskap van God nie.
6-7Jy moet vir die jonger mans sê hulle moet altyd weet hoe om reg te lewe. Jy self moet goeie dinge doen, sodat jy 'n voorbeeld kan wees vir hulle. Jy moet eerlik wees wanneer jy vir die mense leer, sodat hulle jou kan respekteer. 8Jy moet vir die mense reg leer, niemand moet daaroor kan praat en sê dit is verkeerd nie. Dan sal ons vyande skaam word en hulle sal nie slegte dinge oor ons kan sê nie.
9Jy moet vir slawe sê dat hulle alles moet doen wat hulle eienaars wil hê, hulle moet goed werk sodat hulle eienaars tevrede sal wees. En die slawe moenie kla wanneer die eienaars iets vir hulle sê nie. 10Die slawe moenie skelm wees en van hulle eienaars se geld vat nie. Nee, hulle moet vir hulle eienaars wys dat hulle altyd eerlik is. Hulle moet goeie slawe wees, hulle moet so goed wees dat al die mense sal sê die dinge is mooi, die dinge wat ons vir hulle geleer het van God, ons Redder.
God is baie goed vir ons
11Almal moet reg lewe, want God het vir ons kom wys dat Hy genadig is en dat Hy al die mense wil red. 12Hy leer vir ons om die verkeerde dinge te los en ook die dinge van die wêreld wat ons graag wil doen. Hy leer vir ons om verstandig en regverdig te lewe. Ja, dan sal ons kan lewe soos God wil hê dat mense in hierdie wêreld moet lewe. 13Ons doen dit terwyl ons wag en ons is bly dat ons seker kan weet dat ons Groot God en ons Redder, Jesus Christus, weer sal kom, Jesus Christus wat Koning is. 14Jesus Christus het gesterf. Óns moes gesterf het, maar Hý het gesterf, en so het Hy ons vrygemaak van al die dinge wat teen God se wette is. Hy het gesterf om ons rein te maak, sodat ons sy eie volk kan wees, 'n volk wat baie graag goeie dinge wil doen. 15Jy moet hierdie dinge vir die mense vertel. Jy moet vir hulle sê wat hulle moet doen en jy moet ook vir hulle sê dat hulle dinge doen wat verkeerd is. Jy moet dit vir hulle sê omdat God gesê het jy moet dit doen. Niemand moet dink dat jy onbelangrik is nie.
Tans Gekies:
Titus 2: ABA
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.