Psalms 89:19-52

Psalms 89:19-52 ABA

Die Here, die Heilige God van Israel, het ons koning vir ons gegee, die koning wat ons moet beskerm. Lank gelede het U verskyn aan die mense wat in U glo, en U het gesê: “Ek het besluit dat Ek 'n belangrike man sal help. Ek het iemand van die volk gekies en Ek het hom belangrik gemaak, Ek het my dienaar Dawid laat kom en Ek het hom gesalf met my gewyde olyf-olie. Ek sal hom beskerm en hom sterk maak. Sy vyande sal hom nie kan bedrieg nie, niemand sal hom verdruk nie. Ek sal die mense doodmaak wat teen hom is, Ek sal die mense doodslaan wat hom haat. Ek sal dieselfde bly vir hom, Ek sal doen wat Ek belowe het, Ek sal hom sterk maak. Ek sal hom laat regeer oor ver lande tot by die see en die riviere. Hy sal vir My sê: ‘U is my Vader, my God, die Rots wat my red.’ En Ek sal vir hom sê hy is vir My so belangrik soos 'n oudste seun, hy is die belangrikste koning op die aarde. Ek sal altyd vir hom doen wat Ek belowe het, Ek sal nooit my verbond met hom breek nie. Hy sal altyd 'n nageslag hê, iemand van sy nageslag sal koning wees so lank soos die son daar is. As 'n persoon van sy nageslag ophou om te doen wat Ek wil hê en nie lewe soos Ek sê nie, as hy maak of dit nie belangrik is om so te lewe nie, en hy doen nie wat Ek sê nie, dan sal Ek hom straf omdat hy opstandig is. Ek sal hom laat swaarkry omdat hy sonde doen. Maar Ek sal nie ophou om vir hom te doen wat Ek belowe het nie, Ek sal altyd dieselfde bly. My verbond sal vir My belangrik bly, Ek sal nie verander wat Ek gesê het nie. Ek het dit voorheen belowe, Ek, die heilige God, en Ek sal nie vir Dawid bedrieg nie. Sy nageslag sal nooit ophou nie, iemand van sy nageslag sal koning wees so lank soos die son daar is. Dit is so seker soos die maan, die getuie wat altyd in die lug is.” Maar, Here, U is nou kwaad vir u gesalfde, U het hom weggestoot, U het hom gelos. U het gemaak of U nie 'n verbond met u dienaar gemaak het nie, U het sy kroon op die grond laat val, en dit het vuil geword. U het al die mure om sy stad laat afbreek, U het sy sterk mure laat verwoes. Almal wat daar verbykom op die pad, vat die goed in die stad, die volke daar naby spot en lag vir die koning. U het sy vyande laat wen teen hom, U het al sy vyande bly gemaak. U het sy eie swaard stomp gemaak, hy kon nie wen en bly staan in die oorlog nie. U het hom laat ophou om koning te wees, U het sy troon omgegooi, dit lê op die grond. U het hom gou oud laat word, U het hom alles laat verloor. Sela Here, hoe lank wil U nog maak of U dit nie weet nie? Altyd? Hoe lank wil U kwaad bly en ons laat brand soos in 'n vuur? U moet onthou dat my lewe kort is. U het al die mense so gemaak dat hulle maklik sterf. Watter mens wat lewe, sal nie sterf nie? Niemand. Watter mens kan homself vrymaak van die dood? Niemand. Sela U het altyd gedoen wat U belowe het, hoekom doen U dit nie nou ook nie? Hoekom het U nie dieselfde gebly soos U vir Dawid belowe het nie? My Here, U moet daaraan dink dat mense vir my, u dienaar, gespot het. Ek het gehoor hoe al die volke my spot. Here, die mense wat my spot, is u vyande, hulle het vir my, u gesalfde, gespot oral waar ek gaan.