Vir die leier van die koor: Van Dawid, die dienaar van die Here. Hy het hierdie lied vir die Here gesing op die dag toe die Here hom gered het van sy vyande en van Saul.
Dawid het gesing:
Here, ek is baie lief vir U, U maak my sterk.
Here, U is my Rots, my veilige plek in die berge,
U maak my vry.
My God, U is my rots, ek voel veilig by U,
U is vir my soos 'n skild,
U is sterk en U red my, U is vir my 'n veilige plek.
Here, ek wil U prys,
want U het my gered van my vyande.
Die dood wou my vasbind met toue,
waterstrome het oor my gespoel
en wou my doodmaak.
Toue van die doderyk het my vasgebind,
vangstrikke van die dood het my vasgevang.
Wanneer dit sleg gaan, dan skree ek: Here!
Ek roep na my God, ek vra dat Hy my moet help.
Hy hoor my stem in sy paleis,
Hy hoor wanneer ek na Hom roep
en vra Hy moet my help.
Die aarde het geskud en gebewe,
die fondamente van die berge
het gebewe en geskud,
want die Here was kwaad.
Rook het uit sy neus gekom,
vuur het uit sy mond gebrand,
kole vuur het uit Hom gekom.
Hy het die hemel oopgeskuif en Hy het afgekom,
daar was donker wolke onder sy voete.
Hy het op 'n gerub geklim en Hy het gevlieg,
Hy het verskyn op die vlerke van die wind.
Dit was donker rondom Hom,
donker water en dik wolke het Hom toegemaak.
Dit het geblink voor Hom, wolke het verbygegaan,
en daar was hael en kole vuur.
Die Here het die donderweer laat raas in die lug,
die Hoogste God het hard gepraat,
en daar was hael en kole vuur.
Die baie weerligstrale was sy pyle,
Hy het sy vyande na al die kante toe gejaag
en Hy het hulle laat vlug.
Wanneer die Here met sy vyande raas,
wanneer die asem uit sy neus 'n stormwind word,
dan word die see leeg,
en die fondamente van die wêreld lê oop.
Die Here steek sy hand uit die hemel
en Hy gryp my,
Hy tel my op uit die baie water.
Hy red my van my sterk vyande,
van die mense wat my haat,
want hulle is te sterk vir my.
Hulle val my aan wanneer ek swaarkry,
maar die Here hou my regop.
Hy bring my na 'n plek waar ek vry is,
Hy red my, want Hy is lief vir my.
Ek is onskuldig,
en die Here gee vir my wat ek moet kry,
ek het niks verkeerd gedoen nie,
en die Here beloon my.
Ja, ek het gedoen wat die Here wil hê.
Wanneer my God my oordeel,
dan is ek nie skuldig nie.
Ek het onthou wat Hy gesê het ek moet doen
en ek het gedoen wat Hy beveel het.
Ek het alles gedoen wat Hy gesê het,
ek het aangehou om reg te doen.