Psalms 118:19-29

Psalms 118:19-29 ABA

Julle moet vir my die poorte oopmaak waar die Here die Regter is, ek wil deur die poorte gaan en vir die Here dankie sê. Hier is die poort van die Here, mense wat reg gedoen het, kan daardeur gaan. Ek wil vir U dankie sê, want U het my geantwoord, U het my gered. Die klip wat die bouers nie wou gebruik nie, daardie klip het die belangrikste klip in die gebou geword. Die Here het dit laat gebeur, dit was vir ons 'n wonderwerk. Hierdie is die dag wat die Here gemaak het, ons moet juig en bly wees daaroor. Here, ons vra vir U, red ons asseblief, ons vra vir U, laat dit asseblief goed gaan met ons! Ons groet elke persoon wat kom omdat die Here hom gestuur het, ons is in die tempel en ons groet julle. Die Here is God, Hy het vir ons die lig laat skyn. Julle moet die fees begin, julle moet takke neem en julle moet dit bring na die horings van die altaar. U is my God, ek wil vir U dankie sê, my God, ek wil vir U prys. Julle moet vir die Here dankie sê, want Hy is goed, ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.