Spreuke 18:1-21

Spreuke 18:1-21 ABA

'n Selfsugtige mens lewe net vir homself, hy hou nie van ware wysheid nie. 'n Dwaas wil nie verstandig word nie, hy wil net sê wat hy self dink. Iemand wat verkeerd doen, beledig mense oral waar hy kom, hy verneder hulle en hy laat hulle sleg voel. Die dinge wat 'n mens sê, kan soos diep water wees, soos 'n waterstroom wat vinnig vloei, daar kan wysheid uitkom. Dit is nie goed om te sê iemand wat skuldig is, is onskuldig nie, want dan sê jy die persoon wat onskuldig is, is skuldig. 'n Dwaas wil altyd twis wanneer hy praat, hy kry straf oor wat hy sê. Wanneer 'n dwaas praat, dan laat hy dit sleg gaan met homself, die dinge wat hy sê, is vir hom soos 'n vangstrik wat hom vang. Skinderstories is soos lekkers, mense glo graag skinderstories. Iemand wat nie sy werk goed doen nie, is soos iemand wat alles afbreek. Die Naam van die Here is soos 'n sterk toring. Wanneer jy aan Hom behoort en reg lewe, dan is jy veilig. 'n Ryk mens dink sy goed is soos 'n stad wat sterk mure het, hy dink sy goed sal hom beskerm soos 'n hoë muur. Die Here sal 'n hoogmoedige mens verwoes, maar Hy sal 'n nederige mens belangrik laat word. Iemand wat nie goed luister voordat hy antwoord nie, doen 'n dom ding, en almal sal dink hy is dom. Wanneer 'n man aanhou hoop, dan sal dit hom help wanneer hy siek is, maar niemand kan aanhou lewe as hy moedeloos is nie. 'n Verstandige mens wil graag meer weet, wyse mense luister, hulle wil leer. Wanneer iemand vir mense presente gee, dan is hy welkom by hulle, hy kan dan by belangrike mense staan. Dit lyk altyd of die persoon reg is wat eerste praat in 'n hof, maar wanneer iemand vir hom vrae begin vra, dan lyk dit nie meer reg nie. Wanneer 'n mens vir die Here vra wie is reg, dan kan mense ophou twis, en dan kan sterk mense besluit om op te hou stry oor wie reg is. 'n Mens kan nie maklik inkom in 'n stad wat sterk mure het nie, ook nie in 'n paleis wat 'n sluitbalk aan die poort het nie. Jy kan ook nie maklik praat met 'n broer wat kwaad is vir jou omdat jy iets verkeerd gedoen het aan hom nie. Iemand wat die regte dinge sê, kry genoeg om te eet. Hy het genoeg omdat hy weet wat om te sê. Woorde kan mense laat sterf of dit kan mense laat lewe. As jy baie praat, dan kan daar goeie of slegte dinge met jou gebeur.