SPREUKE 18:1-21

SPREUKE 18:1-21 NLV

’n Mens wat hom eenkant hou, lewe net vir homself. Hy het ’n afkeer aan gesonde oordeel. ’n Dwaas het geen erg aan insig nie. Hy stel net daarin belang om sy eie opinie bekend te maak. Waar goddeloosheid sy voet by die deur inkry, kom minagting daarmee saam. Saam met die belediging kom ook die skande. ’n Man se woorde kan diep waters wees, ’n borrelende fontein waaruit wysheid vloei. Dit is verkeerd vir ’n regter om partydig te wees vir die skuldige, deur teen die onskuldige uitspraak te lewer. ’n Dwase mens praat hom alewig in ’n rusie in; hy soek vir ’n pak slae met wat hy sê. ’n Dwaas se mond is sy ondergang. Met sy woorde stel hy vir homself ’n noodlottige strik. Skinderstories is so soet soos lekkernye, dit sink tot diep in jou gemoed. Iemand wat lui is in sy werk, is die tweelingbroer van die verwoester. Die Naam van die HERE is soos ’n veilige fort. Die regverdige gaan skuil daar en word beskerm. Die ryk man beskou sy rykdom as ’n ondeurdringbare vesting. In sy verbeelding is dit ’n hoë muur waaragter hy beskerm word. Op selfverheffing volg ineenstorting. Op nederigheid volg eer. Iemand wat ’n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas. Skande wag vir hom. Innerlike sterkte dra ’n mens deur sy liggaamlike siekte. Hoe kan iemand egter uithou as hy moed verloor het? ’n Mens met insig kry steeds meer kennis. Wyse mense hou altyd hulle ore oop vir nog meer kennis. ’n Geskenk maak ander se harte oop vir jou. Dit maak belangrike mense toeganklik vir jou. Hy wat eerste praat in ’n regsaak, lyk altyd onskuldig. Eers by kruisondervraging kom die waarheid uit. Rusies kan besleg word deur die lot te werp. Dit kan beslissings vel tussen twee sterk teenstanders. ’n Verontregte broer is meer ontoeganklik as ’n gewapende stad; ’n rusie is soos die balk wat deure toesluit. Deur die regte woorde te gebruik kan ’n mens sy honger stil. Hy kan genoeg kry om te eet met wat hy sê. Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde.