Markus 13:14-37

Markus 13:14-37 ABA

Jesus het gesê: “Julle sal iets sien wat vir God baie kwaad maak en wat alles verwoes. Dit sal staan op 'n plek waar dit nie moet wees nie. Almal wat hierdie woorde lees, moet goed dink wat dit beteken. Wanneer dit gebeur, dan moet die mense wat in Judea is, na die berge vlug. Iemand wat dan op die dak van sy huis is, moenie wanneer hy afklim, eers in die huis ingaan om iets te gaan haal nie. En iemand wat op die koringland werk, moenie eers omdraai huis toe om sy klere te gaan haal nie. Dit sal in daardie tyd sleg gaan met vroue wat 'n baba verwag of wat kinders het wat nog aan hulle drink. Julle moet bid dat hierdie dinge nie in die winter gebeur nie. In daardie dae sal mense baie swaar kry. Tot nou toe het niemand so swaar gekry nie, van die begin af toe God alles gemaak het, tot nou toe. Niemand sal weer so swaar kry nie. In daardie tyd sal die mense swaarkry, maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak. As Hy dit nie besluit het nie, dan sal niemand in daardie tyd kan aanhou lewe nie. Maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak om die mense te help wat Hy gekies het. Wanneer iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Kyk, daar is Hy!’ dan moet julle hom nie glo nie, want daar sal mense kom wat vals is en wat sê hulle is die Christus. Daar sal ook vals profete kom en hulle sal tekens wys en wonderwerke doen. Hulle sal probeer om die mense van God verkeerd te laat doen. Maar God het hulle gekies, daarom sal die vals profete dit nie regkry nie. “Julle moet oppas! Ek het dit alles vir julle gesê voordat dit gebeur.” “In daardie tyd, nadat die ander mense die gelowiges verdruk het, “ sal die son donker word en die maan sal nie skyn nie. Die sterre sal uit die lug val en alles in die lug sal skud. “Dan sal almal My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees. Dan sal Ek my engele stuur en Ek sal al die mense bymekaarmaak wat Ek gekies het. Ek sal hulle bymekaarmaak van die ooste, die weste, die noorde en die suide, van die een kant van die aarde tot by die ander kant.” Jesus het ook gesê: “Julle moet hierdie les leer van die vyeboom: Wanneer 'n vyeboom se takke sag word en die blare begin groei, dan weet julle die somer is naby. So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die Here is naby, Hy sal gou kom. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur. Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.” “Niemand weet op watter dag en hoe laat in die dag Ek sal kom nie. Die engele in die hemel weet nie, ook nie Ek, die Seun, nie. Net die Vader weet dit. Julle moet wakker en gereed wees, want julle weet nie wanneer daardie dag sal kom nie. “Dit is soos 'n man wat 'n tyd lank weggaan van sy huis. Hy het vir sy slawe gesê hulle moet al sy goed oppas. Hy het ook vir elkeen sy werk gegee wat hy moes doen. Hy het vir die deurwagter gesê hy moet wakker wees. Julle moet ook wakker wees, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis sal terugkom nie. Julle weet nie of dit laat in die aand sal wees of in die middel van die nag of wanneer die haan begin kraai of vroeg in die oggend nie. Wanneer die eienaar skielik terugkom, dan moet julle nie slaap nie. Ek sê dit vir julle en Ek sê dit vir almal: Julle moet wakker bly!”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Markus 13:14-37