Jesus het gesê: “Wanneer Ek, die Seun van die mens, die Koning, saam met al my engele kom, dan sal Ek op my troon sit en Koning wees. Dan sal al die volke voor My bymekaarkom, en dan sal Ek die mense van mekaar skei, soos 'n skaapwagter die skape van die bokke skei. En Ek sal die skape regs langs My laat staan en die bokke links langs My. Dan sal Ek, die Seun van die mens, vir die mense regs langs My sê: ‘Kom, my Vader het julle geseën. Hy wil van altyd af Koning wees oor julle, vandat Hy die aarde gemaak het. Julle moet dit nou aanvaar en bly wees daaroor. Want toe Ek honger was, het julle vir My iets gegee om te eet, en toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink. Toe Ek 'n vreemdeling by julle was, het julle gesê Ek is welkom by julle. Ek het nie klere gehad nie, en julle het vir My klere gegee om aan te trek. Ek was siek, en julle het vir My gesorg. Ek was in die tronk, en julle het My besoek.’ Die mense wat gehoorsaam is aan die wette van die Here, sal dan vir My sê: ‘Here, wanneer het ons gesien U is honger en het ons vir U iets gegee om te eet? Wanneer het ons gesien U is dors en het ons vir U iets gegee om te drink? Wanneer het ons gesien U is 'n vreemdeling en het ons gesê U is welkom by ons? Wanneer het ons gesien U het nie klere nie en het ons vir U klere gegee om aan te trek? Wanneer het ons gesien U is siek of in die tronk, en het ons U besoek?’ Die Koning sal dan vir hulle sê: ‘Ek sê vir julle, en dit is seker: Toe julle dit gedoen het vir een van my vriende, ook vir die een wat die minste belangrik is, toe het julle dit vir My gedoen.’ Dan sal die Koning vir die mense links langs Hom sê: ‘Gaan weg van My! God het julle vervloek. Julle moet na die vuur gaan wat altyd brand, die vuur wat Hy gereedgemaak het vir die duiwel en sy engele. Want toe Ek honger was, het julle vir My niks gegee om te eet nie, en toe Ek dors was, het julle vir My niks gegee om te drink nie. Toe Ek 'n vreemdeling was, het julle nie gesê Ek is welkom by julle nie, en toe Ek nie klere gehad het nie, het julle nie vir My klere gegee om aan te trek nie. Ek was siek en in die tronk en julle het nie vir My gesorg nie.’ Dan sal ook húlle vir die Koning sê: ‘Here, wanneer het ons gesien U is honger of dors, of U is 'n vreemdeling of U het nie klere nie, of U is siek of in die tronk? Wanneer het ons U nie gedien nie?’ Dan sal die Koning vir hulle sê: ‘Ek sê vir julle, en dit is seker: Toe julle dit nie gedoen het vir een van hierdie mense wat die minste belangrik is nie, toe het julle dit ook nie vir My gedoen nie.’