Matteus 15:1-20

Matteus 15:1-20 ABA

Daar kom toe Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem na Jesus toe en hulle vra vir Hom: “Hoekom is jou dissipels ongehoorsaam en doen hulle nie wat ons voorouers altyd gedoen het nie? Jou dissipels was nie hulle hande wanneer hulle gaan eet nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom is julle ongehoorsaam en doen julle nie wat Gód gesê het nie? Maar julle hou aan om te doen wat mense sê. God het gesê: ‘ Jy moet jou ouers respekteer.’ Hy het ook gesê: ‘ As iemand sy pa of sy ma vervloek, dan moet hy sterf. Dit is seker!’ Maar julle sê iemand mag vir sy pa of ma sê: ‘Ek kan julle nie help nie, want die goed wat ek vir julle moes gee, het ek vir die Here gegee.’ “So iemand respekteer nie sy pa en sy ma nie. Julle doen nooit wat God vir julle sê nie, julle doen net wat julle voorouers vir julle gesê het. Julle is skynheilig. Dit is waar wat die profeet Jesaja oor julle gesê het. Hy het gesê: “ Hierdie volk sê hulle respekteer My, maar dit is nie waar nie, hulle harte is ver van my. Dit help niks om God so te dien nie. Want hulle leer vir die mense wette wat hulle self gemaak het en dan sê hulle dit is God se wette.” Jesus het die mense na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle moet luister, sodat julle kan verstaan wat Ek sê. Dit is nie die kos wat by 'n mens se mond ingaan wat hom onrein maak nie. 'n Mens word onrein van die dinge wat uit sy mond uitgaan, die dinge wat hy sê.” Toe het die dissipels na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Weet U die Fariseërs het baie kwaad geword toe hulle hoor wat U sê?” Jesus sê toe vir hulle: “My Vader wat in die hemel is, sal elke plant uittrek wat Hy nie geplant het nie. Moenie luister na wat die Fariseërs sê nie. Hulle is soos blinde mense wat vir ander blindes wil wys waar hulle moet loop. Wanneer een blinde vir 'n ander blinde wil wys waar hy moet loop, dan sal hulle altwee in 'n watersloot val.” Petrus vra toe vir Jesus: “Verduidelik asseblief vir ons wat die gelykenis beteken.” Jesus het vir hom gesê: “Julle is my dissipels, maar ook júlle verstaan dit nou nog nie. Julle weet dat die kos wat in 'n mens se mond ingaan, na sy maag gaan en dan weer uit sy liggaam uitgaan. Maar die woorde wat uit 'n mens se mond kom, kom uit sy hart. Dit is hierdie dinge wat 'n mens onrein maak. Want die slegte dinge wat 'n mens dink, kom van binne, uit 'n mens se hart. Dit is daardie slegte gedagtes wat hom sonde laat doen, soos om mense te vermoor, of egbreuk te pleeg, of seks te hê met iemand met wie jy nie mag nie, of te steel of te lieg of sleg te praat van ander mense. Dit is daardie dinge wat 'n mens onrein maak. Maar as jy nie jou hande gewas het voor jy eet nie, maak dit jou nie onrein nie.”