MATTEUS 15:1-20

MATTEUS 15:1-20 NLV

Daar kom toe Fariseërs en skrifkenners van Jerusalem af na Jesus toe en sê: “Waarom verbreek jou dissipels ons voorouers se tradisies deur nie hulle hande voor ete te was nie?” Jesus se reaksie was: “En waarom verbreek julle, deur julle tradisie, die direkte opdrag van God? God sê byvoorbeeld: ‘Jy moet jou pa en ma eer,’ en: ‘Elkeen wat sy pa of ma slegmaak, moet definitief sterf.’ Julle sê egter: ‘As jy jou bates as ’n offer aan die Here toewy, hoef jy nie meer jou ouers te eer deur hulle te ondersteun nie.’ So trek julle met julle tradisie ’n streep deur die woord van God. Julle skynheiliges! Die profeet Jesaja het julle raak beskryf: ‘Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Hulle godsdiens is blote skyn, want hulle hou menslike voorskrifte voor as wette van God.’” Daarop het Jesus die skare nadergeroep en vir hulle gesê: “Luister en verstaan goed. ’n Mens word nie onrein gemaak deur wat jy eet nie, maar deur wat jy sê.” Toe kom sy dissipels nader en vra Hom: “Besef U dat die Fariseërs aanstoot geneem het toe hulle hoor wat U sê?” Maar Hy het geantwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word. Ignoreer hulle. Hulle is blinde gidse wat blindes wil lei. As een blinde vir ’n ander blinde as gids wil optree, beland hulle al twee in die sloot.” Petrus vra Hom toe: “Verduidelik vir ons wat U bedoel het toe U gesê het mense word nie onrein deur wat hulle eet nie.” Hy sê vir hulle: “Verstaan selfs julle dit nog steeds nie? Begryp julle dan nie dat alles wat by ’n mens se mond ingaan deur jou maag beweeg en dan uit die liggaam gaan nie? Maar slegte woorde kom uit ’n slegte hart en maak die persoon wat hulle uitspreek, vuil. Wat uit die hart kom, is slegte gedagtes, soos om moord te pleeg, ontrou te wees in die huwelik, onsedelikheid te bedryf, te steel, leuens te vertel en mense te belaster. Dit is hierdie dinge wat jou onrein maak. Om met ongewaste hande te eet, sal jou nooit onrein en onaanvaarbaar voor God maak nie.”