Lukas 9:18-50

Lukas 9:18-50 ABA

Eendag was Jesus alleen, Hy was besig om te bid. Die dissipels was daar naby Hom. Jesus vra toe vir hulle: “Wat sê die mense, wie is Ek?” Die dissipels het vir Hom gesê: “Party mense sê U is Johannes die Doper, party mense sê U is Elia, en ander mense sê U is een van die profete wat lank gelede gelewe het en wat nou weer begin lewe het.” Jesus het vir hulle gevra: “Maar julle, wat sê júlle? Wie sê júlle is Ek?” Petrus het geantwoord: “U is die Christus van God.” Jesus het toe vir sy dissipels gesê hulle mag nie vir ander mense vertel dat Hy die Christus is nie. Hy het ook gesê dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom, die Seun van die mens. Hulle sal Hom nie aanvaar nie, hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe. Jesus het vir al die mense gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet elke dag lewe soos iemand wat weet hy sal aan 'n kruis sterf. Dit is hoe hy My moet volg. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe vir altyd, dan help dit jou niks. As iemand My nie wil ken nie en nie wil glo wat Ek sê nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, hom ook nie wil ken nie. Ek sal hom nie wil ken nie wanneer Ek saam met die heilige engele kom en Koning is soos my Vader Koning is. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat God Koning is, hulle sal dit sien voordat hulle sterf.” Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom geneem. Hy het teen 'n berg opgegaan om daar te bid. Jesus se gesig het anders begin lyk terwyl Hy besig was om te bid. Sy klere het baie wit geword en dit het geblink. Skielik was daar twee mans wat met Jesus gepraat het. Dit was Moses en Elia, en hulle het soos konings gelyk. Hulle het gepraat oor Jesus wat 'n paar dae later in Jerusalem sou sterf. Petrus, Johannes en Jakobus het aan die slaap geraak. Hulle het later wakker geskrik en hulle het vir Jesus en die twee mans by Hom gesien. Jesus het ook soos 'n koning gelyk. Moses en Elia het gereedgemaak om weg te gaan van Jesus, en Petrus het vir Jesus gesê: “Meneer, dit is goed dat ons hier is. Ons moet drie tente opslaan, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.” Petrus het nie besef wat hy sê nie. Petrus was nog besig om te praat, toe kom daar 'n wolk wat vir hulle almal toegemaak het. Die drie dissipels het bang geword toe die wolk oor hulle kom. Die dissipels het gehoor God praat uit die wolk. Hy het gesê: “Dit is my Seun wat Ek gekies het. Julle moet doen wat Hy sê.” Toe God klaar gepraat het, het die drie dissipels net vir Jesus daar gesien. Die dissipels het stilgebly, en terwyl Jesus by hulle op die aarde was, het hulle vir niemand vertel van die dinge wat hulle gesien het nie. Die volgende dag het Jesus en die drie dissipels afgekom van die berg. Baie mense het na Hom toe gekom. Een van die mense het hard gepraat en gesê: “Meneer, ek soebat U, help asseblief my seun. Hy is my enigste seun. Daar is 'n onrein gees wat my seun aanval, dan begin my seun dadelik skree. Die gees laat hom ruk en skop, en skuim kom by sy mond uit. Die gees los my seun amper nooit nie, en hy is besig om my seun dood te maak. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te jaag, maar hulle kon nie.” Toe sê Jesus: “Julle glo nie en julle is sleg! Hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek nog geduldig wees met julle? Bring jou seun hiernatoe.” Toe die seun nader kom, het die duiwel hom op die grond laat val en hom laat ruk en skop. Jesus het hard met die onrein gees gepraat en Hy het hom uit die seun gejaag. Jesus het die seun gesond gemaak en hom vir sy pa teruggegee. Al die mense was verbaas omdat God so sterk is en dit alles kan doen. Al die mense was verbaas oor alles wat Jesus gedoen het. Maar Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek vir julle sê. Die tyd is nou naby wanneer God vir My, die Seun van die mens, vir die mense sal gee sodat hulle My kan doodmaak.” Maar die dissipels het nie verstaan wat Jesus gesê het nie. God het nog nie vir hulle gewys wat hierdie woorde beteken nie, en hulle kon dit nie verstaan nie. Hulle was te bang om vir Jesus te vra wat hierdie woorde beteken. Die dissipels het met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy neem toe 'n kindjie en Hy laat die kindjie by Hom staan. Jesus het vir die dissipels gesê: “Wanneer iemand vir hierdie kindjie wat aan My behoort, sê hy is welkom, dan sê hy Ek is ook welkom by hom. En wanneer Ek by iemand welkom is, dan is my Vader wat My gestuur het, ook welkom by hom. Die een wat die minste belangrik is van julle almal, hy is die belangrikste by God.” Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om duiwels uit mense te jaag. Ons het hom probeer keer omdat hy nie saam met ons by U is nie.” Maar Jesus het vir Johannes gesê: “Julle moet hom nie keer nie, want as hy nie teen julle is nie, dan help hy vir julle.”