Lukas 22:1-21, 23-38

Lukas 22:1-21 ABA

Dit was amper tyd vir die Fees van die Ongesuurde Brood. Hulle het hierdie fees ook “ Paasfees” genoem. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het planne gemaak om Jesus dood te maak. Dit was geheime planne, want hulle was bang vir die mense. Een van die dissipels se naam was Judas. Hulle het hom ook Iskariot genoem. Die Satan het in Judas ingegaan. Toe gaan Judas na die priesterleiers en die offisiere van die wagte wat by die tempel gewerk het. Judas het met hulle gepraat oor hoe hy hulle kon help om Jesus te vang. Hulle was bly en hulle het besluit om vir Judas geld te gee. Judas het gesê dit is goed. Toe het hy 'n plan probeer maak en hy het gewag vir die regte tyd om Jesus te verraai. Hy moes dit doen waar daar nie ook ander mense is nie. Dit was die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood. Daardie dag moes die mense die paaslam slag. Toe stuur Jesus vir Petrus en Johannes en Hy sê vir hulle: “Gaan maak vir ons die Paas-ete gereed sodat ons dit kan eet.” Die twee dissipels het vir Jesus gevra: “Waar wil U hê moet ons die ete gaan gereedmaak?” Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle in die stad ingaan, dan sal 'n man na julle toe kom wat water in 'n kruik dra. Gaan saam met hom in die huis waar hy ingaan. Dan sê julle vir die eienaar van daardie huis: Ons Meneer vra waar die kamer is waar Hy die Paas-ete saam met sy dissipels kan eet. Die eienaar sal vir julle 'n groot kamer op die dak van sy huis wys. Alles wat ons moet hê vir die ete, is daar. Julle moet alles daar gereedmaak vir die Paas-ete.” Die dissipels het gegaan, en dit was alles soos Jesus vir hulle gesê het. Hulle het alles gereedgemaak vir die Paas-ete. Toe dit die regte tyd was, het Jesus by die tafel gaan sit en die apostels, die dissipels, het saam met Hom gaan sit. Jesus het vir hulle gesê: “Ek wou baie graag hierdie Paas-ete saam met julle eet voordat Ek swaarkry. Ek sê vir julle Ek sal dit nooit weer eet nie totdat almal sal weet dat God Koning is en almal sal weet wat hierdie Paas-ete beteken.” Toe het Jesus 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het vir die apostels gesê: “Neem die beker wyn en drink almal daaruit, want Ek sê vir julle, Ek sal nie weer wyn drink nie totdat almal sal weet dat God Koning is.” Jesus het toe brood geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy apostels gegee. Hy het gesê: “Dit is my liggaam wat Ek vir julle gee. Elke maal wanneer julle die brood breek en eet, dan moet julle aan My dink.” Nadat hulle geëet het, het Jesus 'n beker wyn geneem. Hy het gesê: “Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed wat vir julle sal vloei, is die bloed van die nuwe verbond. Maar kyk, die man wat My sal verraai, eet saam met My by hierdie tafel.

Lukas 22:23-38 ABA

Die apostels het vir mekaar gevra wie van hulle so iets sal wil doen. Die apostels het toe met mekaar begin stry oor wie van hulle die belangrikste is. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Die konings van die wêreld wil regeer oor hulle mense, en almal wat regeer, hou daarvan dat die mense sê hulle doen baie goeie dinge vir hulle mense. Maar julle moenie so wees nie. As iemand van julle belangrik wil wees, dan moet hy wees soos die jongste van julle, die een wat al die ander moet bedien. As iemand 'n leier wil wees, dan moet hy almal bedien. Want wie is die belangrikste: Die een wat by die tafel sit, of die een wat die mense by die tafel bedien? Natuurlik is dit die een wat by die tafel sit. Maar kyk na My, wat doen Ek? Ek is by julle soos iemand wat die mense by die tafel bedien. Julle het altyd by My gebly toe dit sleg gegaan het met My. Daarom sal Ek vir julle konings maak soos my Vader vir My 'n Koning gemaak het. Dan sal julle saam met My kan eet en drink by my tafel waar Ek Koning is. Julle sal op trone sit en julle sal die twaalf stamme van Israel oordeel.” Toe sê Jesus vir Petrus: “Simon, Simon, jy moet goed luister, die Satan wil julle toets en hy wil kyk of julle sal ophou om in My te glo, hy wil julle graag sif soos 'n mens koring sif. Maar Ek het gebid dat jy sal aanhou om in My te glo. En jy, wanneer jy verander het en lewe soos God wil hê, dan moet jy jou broers help.” Petrus het vir Jesus gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, ook as U tronk toe moet gaan en moet sterf, dan sal ek saam met U gaan.” Jesus sê toe vir hom: “Petrus, jy sal drie maal sê jy ken nie vir My nie, jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.” Toe sê Jesus vir die dissipels: “Kan julle onthou, toe Ek julle na die mense toe gestuur het, het Ek gesê julle moenie 'n beursie of 'n rugsak of sandale saamneem nie? Het julle toe iets nodig gekry?” Die dissipels het geantwoord: “Nee, niks.” Jesus het vir hulle gesê: “Maar nou is dit anders. As iemand 'n beursie het, dan moet hy dit saamneem. En as hy 'n rugsak het, dan moet hy dit saamneem. As hy nie 'n swaard het nie, dan moet hy sy bo-kleed verkoop en 'n swaard koop. Want Ek sê vir julle, nou sal waar word wat die profeet Jesaja gesê het. Hy het gesê: ‘ Die mense het gedink hy is een van die mense wat ongehoorsaam is aan God.’ Ja, al die dinge wat hulle oor my lewe geskryf het, sal nou gebeur.” Toe sê die dissipels: “Here, kyk ons het twee swaarde.” Maar Jesus het gesê: “Nee, daaroor sal ons nie weer praat nie.”

Video vir Lukas 22:1-21,23-38

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 22:1-21, 23-38