Lukas 2:1-35

Lukas 2:1-35 ABA

In daardie tyd het keiser Augustus gesê al die mense oor wie hy regeer, moet hulle laat registreer. Sirenius was die goewerneur wat in daardie tyd oor die provinsie Sirië regeer het. Al die mense het gegaan om te registreer, elkeen het gegaan na die stad waar sy familie altyd gewoon het. Josef het in Nasaret in Galilea gewoon, maar hy moes na Betlehem gaan om te registreer. Betlehem was die stad van koning Dawid, en Josef was van die nageslag van koning Dawid. Josef was verloof aan Maria. Sy was swanger en sy het saam met Josef gegaan. Toe hulle in Betlehem was, het dit tyd geword dat Maria haar baba moes kry. Haar Seun is gebore. Hy was haar eerste kind. Sy het Hom toegedraai in doeke en Hom neergesit in 'n krip, want daar was nie vir Josef en Maria plek waar die ander mense gebly het nie. Daar was skaapwagters buite in die veld naby Betlehem. Hulle het in die nag hulle skape opgepas. 'n Engel van die Here het by hulle kom staan, en die lig van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle was baie bang. Die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want ek bring vir julle 'n goeie boodskap. Al die mense sal baie bly wees daaroor. Vandag is julle Redder in die stad van Dawid gebore. Hy is Christus die Here. Julle sal weet dit is Hy wanneer julle 'n baba sien wat toegedraai is en in 'n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel nog baie ander engele uit die hemel. Hulle het God geprys en gesê: Prys God in die hoogste hemel. By die mense op die aarde sal daar vrede wees, by die mense vir wie Hy lief is. Die engele het van die skaapwagters weggegaan na die hemel. Toe het die skaapwagters vir mekaar gesê: “Kom ons gaan dadelik na Betlehem sodat ons kan sien wat gebeur het. Dan sal ons sien wat die Here vir ons vertel het.” Die skaapwagters het haastig daarnatoe gegaan en hulle het vir Maria en Josef gekry en ook die baba wat in die krip lê. Toe die skaapwagters dit alles sien, het hulle vir die mense vertel wat die engel vir hulle gesê het oor hierdie Kindjie. Almal wat dit gehoor het, was verbaas oor wat die skaapwagters vir hulle vertel het. Maar Maria het alles onthou en baie maal daaroor gedink. Die skaapwagters het teruggegaan. Hulle het God geloof en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit het alles gebeur soos die engel vir hulle vertel het. Toe Jesus ag dae oud was, was dit die tyd om Hom te besny, en toe het hulle Hom Jesus genoem. Dit was die naam wat die engel vir Maria gesê het voordat sy swanger geword het. Moses het in sy wette geskryf wat 'n vrou moet doen om weer rein te word nadat sy 'n kind gekry het. Maria het dit alles gedoen en daarna het sy en Josef vir Jesus na Jerusalem gebring om Hom aan die Here te wy. Die wet van die Here sê: Julle moet die eerste seun van elke vrou aan die Here wy. Josef en Maria het ook 'n offer gebring, want die wet van die Here sê ook: Die vrou moet 'n offer vir die Here bring. Sy moet twee tortelduiwe of twee jong duiwe offer. Daar was 'n man in Jerusalem, sy naam was Simeon. Hy het gedoen wat die Here wil hê, en hy het die Here elke dag gedien. Hy het geweet die Here sal Iemand stuur om sy volk te kom red, en hy het elke dag vir Hom gewag. Die Heilige Gees was in Simeon. Die Heilige Gees het voorheen vir hom gesê hy sal Christus die Here sien voordat hy sterf. Die Heilige Gees het eendag vir Simeon gesê hy moet na die tempel gaan. Dit was toe Josef en Maria vir Jesus gebring het om met Hom te doen soos die Wette van Moses sê. Simeon het die Kindjie in sy arms gehou en hy het God geprys en gesê: Here, U het gedoen wat U vir my gesê het. Nou kan ek sterf, ek is tevrede, want ek het self die Redder gesien. U het Hom vir ons gestuur, en al die volke sal Hom sien. Al die volke sal sien Hy is die lig en hulle sal u volk Israel eer. Josef en Maria was baie verbaas oor wat Simeon gesê het oor Jesus. Simeon het hulle geseën en hy het vir Maria, Jesus se ma, gesê: “Hierdie Kind het gekom, Hy sal wees soos 'n klip waaroor baie mense val, maar Hy sal ook baie mense red. Hy is die Redder, maar nie al die mense sal dit glo nie. Daarom, Maria, sal jy baie swaar kry. Die mense sal oor Hom stry en so sal almal weet wat die mense oor hierdie Kind dink.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid