Jesus het met die twaalf dissipels gepraat. Hy het vir hulle gesê: “Luister, ons gaan na Jerusalem, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar met My gebeur. Die Joodse leiers sal My vir die heidene gee, en die heidene sal My spot en sleg van My praat en op My spoeg en My met 'n sweep slaan en My doodmaak. Maar op die derde dag sal Ek weer lewe.” Die dissipels het niks verstaan wat Jesus gesê het nie. God het hulle nie laat verstaan wat hierdie woorde beteken nie. Hulle kon dit nie verstaan nie. Toe Jesus naby die stad Jerigo kom, was daar 'n blinde man wat langs die pad gesit en bedel het. Die blinde man het gehoor toe baie mense daar verbygaan, en hy het gevra wat daar gebeur. Hulle het vir hom gesê dit is Jesus van Nasaret wat verbygaan. Toe begin die blinde man skree: “Jesus, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help!” Die mense wat voor geloop het, het met hom geraas en gesê hy moet stilbly, maar hy het aangehou en nog harder geskree: “Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help!” Jesus het gaan staan en Hy het gesê hulle moet die blinde man na Hom toe bring. Toe die man nader kom, vra Jesus vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” En die blinde man antwoord: “Meneer, ek wil sien!” Jesus het vir hom gesê: “Kyk, jy sien nou! Jy sien, want jy het geglo.” Die blinde man kon dadelik sien, en hy het Jesus gevolg terwyl hy God prys. Toe die mense dit sien, het almal God geprys oor wat Jesus gedoen het.
Lees Lukas 18
Deel
Vergelyk alle weergawes: Lukas 18:31-43
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's