Lukas 18:1-30

Lukas 18:1-30 ABA

Jesus het toe vir die dissipels 'n gelykenis vertel. Hy wou hê hulle moet verstaan dat 'n mens moet aanhou bid en nie moedeloos moet word nie. Hy het gesê: “In 'n stad was daar 'n regter wat nie bang was vir God nie. Mense was ook nie vir hom belangrik nie. In dieselfde stad was daar 'n weduwee. Sy het na die regter toe gegaan en vir hom gesê: ‘Daar is iemand wat nie reg doen aan my nie. Jy moet my asseblief help.’ Die regter wou haar nooit help nie, maar ná 'n lang tyd het hy gedink: Ek is nie bang vir God nie en mense is nie vir my belangrik nie. Maar ek sal die weduwee help, want sy is lastig en sy sal my nog baie moeg maak as sy so aanhou vra dat ek haar moet help.” Toe sê die Here: “Het julle gehoor wat sê daardie slegte regter? Hy het gesê hy sal die weduwee help, maar God sal sy mense help, dit is seker. Hy het hulle gekies en hulle roep elke dag en nag na Hom. Dink julle Hy sal lank wag om hulle te help? Nee, Ek sê vir julle: Hy sal hulle dadelik help. Julle moet aanhou bid, sodat, wanneer die Seun van die mens kom, Hy mense op die aarde sal kry wat glo.” Daar was party mense wat gedink het alles wat hulle doen, is genoeg om hulle regverdig te maak. Hulle het ook gedink net húlle is belangrik. Maar Jesus het toe hierdie gelykenis vir daardie mense vertel. Hy het gesê: “Twee mans het na die tempel gegaan om te bid. Die een man was 'n Fariseër en die ander man was 'n tollenaar. Die Fariseër het gaan staan en hy het só gebid: ‘My God, baie dankie dat ek nie soos die ander mense is nie. Hulle steel, hulle lewe nie soos U wil hê nie, en hulle pleeg egbreuk. En dankie dat ek nie soos hierdie tollenaar is nie. Ek vas twee maal in 'n week, en ek gee tiendes van alles wat ek kry.’ “Maar die tollenaar het ver weg gaan staan. Hy wou nie opkyk na die hemel nie, want hy het gedink hy is nie goed genoeg nie. Hy het homself op die bors geslaan en gesê: ‘My God, ek is 'n sondaar. U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help.’ ” Daarna het Jesus gesê: “Ek sê vir julle, toe hierdie tollenaar weggaan van die tempel, was God tevrede met hom maar nie met die Fariseër nie. Want God sal elkeen verneder wat dink hy is belangrik, en God sal elkeen wat nederig is, belangrik maak.” Die mense het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy aan hulle kon raak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense geraas. Maar Jesus het die kindertjies geroep en gesê: “Laat die kinders na My toe kom en moenie hulle keer nie, want God is Koning oor mense soos hulle. Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand nie soos 'n kindjie glo dat God sy Koning is nie, dan sal hy ook nie kan inkom waar God Koning is nie.” 'n Leier van die Jode het vir Jesus gesê: “U is 'n goeie leermeester. Sê vir my wat moet ek doen om die ewige lewe te kry.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Hoekom sê jy Ek is goed? Net God is goed, niemand anders nie. Jy weet wat God in sy tien gebooie gesê het: ‘ Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie oor ander mense lieg nie, jy moet jou ouers respekteer.’ ” Die man het vir Jesus gesê: “Vandat ek klein was, het ek alles gedoen wat God se wette sê.” Toe Jesus dit hoor, het Hy vir hom gesê: “Jy moet nog een ding doen: Gaan verkoop alles wat jy het en deel die geld uit vir die arm mense. Dan sal jy ryk wees in die hemel. Kom dan hier en gaan saam met My.” Die man het baie hartseer geword toe hy hoor wat Jesus sê, want hy was baie ryk. Toe Jesus sien hoe hartseer die ryk man word, het Hy gesê: “Ryk mense sal nie maklik inkom waar God Koning is nie. 'n Ryk man sal moeilik inkom waar God Koning is, 'n kameel sal makliker deur die oog van 'n naald kan gaan.” Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “As dit so is, wie sal kan inkom waar God Koning is?” Jesus het lank na hulle gekyk en Hy het gesê: “Mense kan nie self daar inkom nie, net God kan hulle laat inkom. God kan alles doen wat Hy wil doen.” Petrus het vir Jesus gesê: “Kyk na ons, ons het ons mense en ons goed gelos en ons gaan saam met U.” Jesus het vir die dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand sy huis los of sy vrou of sy broers of sy ouers of sy kinders omdat hy gehoorsaam is aan God wat Koning is, dan sal hy baie meer terugkry. Hy sal baie terugkry nou, in hierdie tyd. Maar daar kom 'n nuwe tyd, en dan sal hy die ewige lewe kry.”