Daar was baie mense, en een van hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, my broer erf baie goed. Sê vir hom hy moet vir my ook daarvan gee.”
Maar Jesus het vir hom gesê: “Man, Ek het nie gekom om regter oor julle te wees of om te besluit wat elkeen moet erf nie.”
Toe sê Jesus vir die mense: “Julle moet oppas, julle moenie meer en meer goed wil hê nie, want dit maak nie saak hoeveel goed 'n mens het nie, dit is nie belangrik vir jou lewe nie.”
Toe vertel Jesus vir hulle 'n gelykenis. Hy het gesê: “Daar was 'n ryk man wat baie koring afgesny het. Toe hulle die koring begin afsny, het hy met homself gepraat en gesê: ‘Wat sal ek doen? Ek het nie genoeg plek waar ek al die koring kan bêre nie.’ Toe sê hy: ‘Ek weet wat ek sal doen: Ek sal my stoorkamers afbreek en nuwe stoorkamers bou wat groter is. Dan sal ek al my koring en ander goed daarin bêre. En dan sal ek vir myself sê ek het nou baie goed wat ek gebêre het vir baie jare wat kom, nou kan ek lekker gaan rus, ek kan eet en drink en die lewe geniet.’ Maar toe het God vir die man gesê: ‘Jy is 'n dwaas, jy sal vannag sterf. En al daardie goed van jou wat jy so veilig weggebêre het, wat sal nou daarvan word?’ So gaan dit met 'n mens wat vir homself geld en mooi goed bymekaarmaak op die aarde, maar nie ryk is by God nie.”
Jesus het toe met sy dissipels gepraat en gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Julle moenie bekommerd wees oor hoe julle sal lewe, oor wat julle sal eet nie. En julle moenie bekommerd wees oor julle liggaam, oor die klere wat julle moet aantrek nie. Die lewe is belangriker as kos en die liggaam is belangriker as klere. Kyk na die kraaie. Hulle saai nie, hulle sny nie koring af nie, en hulle het nie stoorkamers waar hulle kos en ander goed bêre nie. Maar God gee elke dag vir hulle kos. En julle is baie belangriker as die voëls. Dit sal niks help as julle bekommerd is nie. Dit sal julle nie langer laat lewe nie, nie een uur langer nie. As julle nie julle lewe 'n klein bietjie langer kan maak nie, hoekom is julle dan bekommerd oor al die ander dinge? Kyk hoe groei die blomme in die veld. Hulle werk nie hard nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle, koning Salomo was ryk en hy het mooi klere aangetrek, maar sy klere was nie so mooi soos een van hierdie blomme nie. God maak al die plante in die veld mooi, maar hulle lewe nie lank nie. Hulle groei vandag, en môre gooi iemand hulle in die vuur. God sal julle baie mooier aantrek en Hy sal beter vir julle sorg as vir die plante, ook vir julle wat so min glo. Julle moenie aanhou dink oor wat julle sal eet of wat julle sal drink nie. Julle moenie aanhou bekommerd wees oor alles nie, want al hierdie dinge is belangrik vir die mense van die wêreld, die mense wat nie vir God ken nie. Julle Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Nee, dit moet vir julle die belangrikste wees dat God die Koning is. Dan sal Hy al hierdie ander dinge vir julle gee. Julle is min, maar julle moenie bang wees nie, want julle Vader wil graag julle Koning wees. Dit sal beter wees as julle al julle goed verkoop en vir die arm mense sorg. Julle moet vir julleself beursies maak wat nie oud word nie, julle moet goed hê wat altyd daar sal wees. Dan sal julle ryk wees, julle sal in die hemel by God goed hê wat nie opraak nie. Daar kan diewe dit nie steel nie, en motte kan dit nie opvreet nie.