Job 37:1-24

Job 37:1-24 ABA

Die storm laat my hart bewe, ek skrik en ek ruk. Luister goed na die stem van God, hoor hoe raas en dreun dit! Hy stuur die weerlig oral deur die lug, dit slaan oor die hele aarde. En dan raas en dreun die donderweer, God praat met sy harde stem, en die donderweer hou aan om te raas terwyl Hy, die Koning, praat. God doen wonderlike dinge wanneer Hy sy stem laat raas, Hy doen groot dinge, dinge wat ons nie verstaan nie. Hy sê vir die sneeu: ‘Val op die aarde!’ en Hy sê vir die reën: ‘Maak die grond goed nat!’ Hy laat al die mense ophou werk sodat hulle kan sien wat Hy doen. Die diere gaan lê en hulle bly in hulle lêplek. Die stormwind kom uit die suide, die koue winde kom uit die noorde. Die wind wat God stuur, laat die water vries, dit word een stuk ys. God maak die wolke vol water, die weerlig slaan in die wolke. Die wolke draai om en om wanneer God so besluit, hulle doen wat Hy sê, oral op die aarde. God stuur die storms om mense te straf of om vir die aarde te sorg of om te doen wat Hy belowe het. Job, jy moet luister na wat ek sê, jy moet stilstaan en dink oor die wonderwerke van God. Weet jy hoe God dit alles doen? Weet jy hoe Hy die weerlig uit die wolke laat slaan? Weet jy hoe die wolke bymekaarkom? Dit is God wat hierdie wonderlike dinge laat gebeur, God wat alles weet. Job, jou klere word baie warm wanneer die warm oostewind waai. Jy kan nie die hemeldak maak nie, die hemeldak wat so hard is soos 'n spieël van metaal. Wil jy nou vir ons leer wat ons vir God moet sê? Ons weet nie wat om te sê nie, ons is baie dom. Niemand moet vir God sê dat ek wil praat nie. Ek wil nie hê dat Hy my moet laat sterf nie. Mense kan nie na die son kyk wanneer die wind gewaai het en die wolke weg is nie. Wanneer God uit die noorde kom, dan blink alles soos goud, almal word bang vir die lig wat rondom Hom, die Koning, is. Ons kan nie naby die Almagtige kom nie, sy krag is baie groot. Hy doen reg, Hy is altyd regverdig, Hy verdruk niemand nie. Daarom is al die mense bang vir Hom. Hy kyk nie na mense wat dink dat hulle wysheid het, maar hulle het dit nie.”