Job 34

34
Elihu praat weer
1Elihu het weer gepraat. Hy het gesê:
2“Julle is die wyse mense,
maar julle moet luister na my,
julle weet alles,
maar julle moet hoor wat ek sê.
3Ore moet hoor wat woorde beteken,
tonge moet proe hoe kos smaak.
4Kom ons besluit wat reg is,
ons moet weet wat die beste is.
5Want Job het gesê:
‘Ek is onskuldig,
maar God het nie reg gedoen
aan my nie.
6Ek is reg,
ek kan nie daaroor lieg nie,
ek het nie verkeerd gedoen nie,
maar ek sterf van my seerplekke.’
7Watter soort mens is Job?
Hoekom hou hy aan om vir God te spot?
8Hy is vriende met mense
wat slegte dinge doen,
hy doen dieselfde dinge
wat mense doen wat verkeerd lewe.
9Want hy het gesê dit help nie
om te doen wat God wil hê nie.
10Julle slim mense,
julle moet luister na my.
God doen nie verkeerd nie,
die Almagtige doen niks
wat sleg is nie.
11Nee, God gee vir elke mens
wat hy moet kry.
God kyk hoe elke mens gelewe het,
en dan gee God vir hom
wat hy daarvoor moet kry.
12En ook, God doen nie verkeerd nie,
Hy oordeel altyd reg, dit is seker.
13God regeer oor die aarde,
niemand het gesê Hy moet dit doen nie.
Die hele wêreld behoort aan Hom,
niemand het dit vir Hom gegee nie.
14As Hy besluit om die lewe
van 'n mens terug te neem,
die asem wat Hy gegee het,
15dan sal alles wat lewe, saam sterf,
al die mense sal weer stof word.
16Job, as jy verstaan wat ek vir jou sê,
dan moet jy luister.
17Dink jy regtig dat God kan regeer
as Hy nie daarvan hou om reg te doen nie?
Dink jy dat God verkeerd gedoen het,
God wat sterk en regverdig is?
18God sê vir konings en belangrike mense
dat hulle sleg is en verkeerd doen.
19Hy sê nie altyd dat net die leiers reg is nie,
Hy doen nie méér vir ryk mense
as vir arm mense nie,
want Hy het hulle almal gemaak.
20Elke mens sterf wanneer God so besluit.
Mense skrik groot in die middel van die nag,
hulle sterf, hulle is miskien belangrike mense,
maar hulle sterf maklik.
21God sien alles wat 'n mens doen,
Hy sien elke tree wat 'n mens gee.
22Mense wat slegte dinge doen,
kan probeer om weg te kruip
in donker plekke,
maar God kan ook dáár vir hulle sien.
23Ja, God kyk net een maal na 'n mens
wanneer die mens moet kom
sodat God hom kan oordeel.
24God weet klaar,
Hy sal nie eers kyk en luister
wanneer Hy belangrike mense verneder
en ander mense in hulle plek
kies en aanstel nie.
25Nee, Hy weet alles wat hulle doen,
en Hy verander alles in een nag,
Hy breek hulle.
26Hy straf hulle op die plek
waar Hy die mense straf wat
verkeerd doen
en waar almal dit sien.
27Hy doen dit omdat hulle opgehou het
om Hom te dien,
en omdat hulle nie wou
doen wat Hy wil hê nie.
28Dit is hoekom die arm mense geskree het
en gevra het dat God hulle moet help.
God het gehoor hoe skree die mense
wat hulleself nie kan help nie.
29-30As Hy stilbly en nie help nie,
dan kan niemand sê dat Hy verkeerd
doen nie.
As Hy wegkyk, dan kan niemand
vra dat Hy moet help nie.
Hy laat mense regeer wat Hom nie dien nie,
hulle vang volke en mense in hulle vangnette.
31Job, het jy bely dat jy
sonde gedoen het?
Het jy belowe om dit nie weer te doen nie?
32Het jy gevra dat God jou sondes
vir jou moet wys?
Jy het verkeerde dinge gedoen,
maar jy het nie geweet dat dit sonde is nie.
Wanneer jy verkeerd gedoen het,
het jy dan gesê dat jy dit nie weer sal doen nie?
33Jy wil nie aanvaar dat God reg doen nie,
moet Hy nou vir jou daaroor straf?
Dit moet jý besluit, nie ek nie.
Jy moet sê wat jy weet.
34'n Verstandige en wyse mens
wat my hoor, sal sê:
35‘Job weet nie wat hy praat nie,
hy sê niks wat verstandig is nie.’
36Job praat soos 'n slegte mens praat,
ons moet alles hoor en ons moet besluit
of hy reg of verkeerd is,
37want hy het sonde gedoen
en hy is ook opstandig teen God.
Hy hou aan om met ons te stry,
hy praat en praat teen God.”

Tans Gekies:

Job 34: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid