Johannes 8:31-51

Johannes 8:31-51 ABA

Jesus het vir die Jode wat in Hom glo, gesê: “As julle glo en doen wat Ek sê, dan sal julle regtig my dissipels wees. Dan sal julle weet wat die waarheid is, en die waarheid sal julle vrymaak.” Hulle sê toe vir Jesus: “Ons is die nageslag van Abraham. Ons was nog nooit iemand se slawe nie. Hoekom sê jy ons sal vry word?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As 'n mens sonde doen, dan is hy 'n slaaf van die sonde. 'n Slaaf bly nie altyd by die familie nie, maar 'n seun bly altyd een van die familie. As Ek, die Seun, julle vrymaak, dan sal julle regtig vry wees. Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat julle nie wil glo wat Ek sê nie. Ek sê vir julle wat Ek by mý Vader gesien het. Julle doen wat julle by júlle vader gehoor het.” Die Jode het vir Jesus gesê: “Abraham is ons vader.” Jesus sê vir hulle: “As julle kinders van Abraham is, dan sal julle doen wat Abraham gedoen het. Maar nou wil julle My doodmaak, en dit is Ek wat vir julle die waarheid vertel het wat Ek by God gehoor het. Abraham het nie dit gedoen nie. Nee, julle doen dinge wat julle vader doen.” Die Jode het vir Jesus gesê: “Ons is nie buite-egtelike kinders nie. Ons het net een Vader. Dit is God!” Jesus het vir hulle gesê: “God is nie julle Vader nie, want julle is nie lief vir My nie. Ek het van God gekom en Ek is nou hier by julle. Ek het nie self besluit om te kom nie. Nee, God het My na die wêreld gestuur. Hoekom verstaan julle nie wat Ek vir julle sê nie? Dit is omdat julle nie regtig wil luister na wat Ek sê nie. Die duiwel is julle vader en julle wil doen wat hy wil hê julle moet doen. Van die begin van die wêreld maak die duiwel mense dood. Hy praat nie die waarheid nie, want hy weet niks van die waarheid nie. Die duiwel lieg altyd, hy kan niks anders doen nie. Hy lieg en hy laat mense lieg. Julle glo My nie, want Ek praat die waarheid. Kan een van julle bewys dat Ek 'n sondaar is? Nee, julle kan nie. Hoekom glo julle My nie wanneer Ek die waarheid praat nie? Iemand wat aan God behoort, luister na wat God sê. Julle luister nie na wat Hy sê nie, want julle behoort nie aan God nie.” Die Jode het vir Jesus gesê: “Ons is reg wanneer ons sê jy is 'n Samaritaan en dit is 'n duiwel wat jou so laat praat.” Jesus het gesê: “Nee, dit is nie 'n duiwel wat My so laat praat nie. Ek eer my Vader, maar julle eer My nie. Dit is nie Ek wat wil hê julle moet sê Ek is belangrik nie. Dit is my Vader wat wil hê julle moet sê Ek is belangrik. Dit is Hý wat mense oordeel. Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand doen wat Ek sê, dan sal hy nooit sterf nie.”