Vroeg die Sondag-oggend het Maria Magdalena na Jesus se graf gegaan. Dit was nog donker. Sy het gesien die klip voor die graf is weg. Toe hardloop sy na Simon Petrus en die ander dissipel, die dissipel vir wie Jesus lief was. Sy het vir hulle gesê: “Iemand het die Here se liggaam weggeneem uit die graf en ons weet nie waar hy Hom gesit het nie.” Petrus en die ander dissipel het na die graf gegaan. Hulle het saam na die graf gehardloop. Maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en hy het eerste by die graf gekom. Hy het gebuk en in die graf gekyk. Hy het gesien die grafdoeke lê daar, maar hy het nie ingegaan in die graf nie. Ná die dissipel vir wie Jesus lief was, het Simon Petrus ook daar gekom. Petrus het ingegaan in die graf en hy het gesien die grafdoeke lê daar. Hy het ook die doek gesien wat om Jesus se kop was. Die doek het nie by die ander grafdoeke gelê nie. Iemand het dit opgevou, en dit was op 'n ander plek. Die ander dissipel wat eerste by die graf was, het toe ook ingegaan. Hy het gesien Jesus se liggaam is nie daar nie en hy het geglo. Die Ou Testament sê Jesus sal weer lewe, maar die dissipels het dit nog nie verstaan nie. Toe het die twee dissipels weer teruggegaan. Maria het by die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vorentoe gebuk en sy het ingekyk in die graf. Sy sien toe twee engele. Hulle het wit klere aangehad. Hulle het gesit op die plek waar Jesus se liggaam gelê het. Een engel het gesit waar sy kop was, en die ander engel waar sy voete was. Die twee engele het vir haar gevra: “Mevrou, hoekom huil jy?” Sy het gesê: “Hulle het my Here se liggaam weggeneem, en ek weet nie waar hulle Hom gesit het nie.” Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai. Sy sien toe vir Jesus, Hy het daar gestaan, maar sy het nie geweet dit is Jesus nie. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, hoekom huil jy? Vir wie soek jy?” Maria het gedink dit is die man wat daar in die tuin werk. Daarom het sy vir Hom gesê: “Meneer, het jy my Here weggeneem? As jy Hom weggeneem het, sê dan vir my waar jy Hom gesit het. Dan kan ek Hom gaan haal.” Jesus het vir haar gesê: “Maria!” Toe draai sy na Jesus en sê: “Rabboeni!” Rabboeni is 'n Hebreeuse woord, dit beteken “My Meneer.” Jesus het vir haar gesê: “Jy moenie aan My raak nie, want Ek moet nog na my Vader in die hemel gaan. Jy moet teruggaan na my broers, die dissipels. Gaan sê vir hulle Ek gaan na my Vader en my God. Hy is nou ook julle Vader en julle God.” Maria Magdalena het vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” Sy het vir hulle vertel wat Jesus vir haar gesê het. Daardie selfde Sondagaand was die dissipels bymekaar. Al die deure was gesluit, want hulle was bang vir die Jode. Jesus het gekom en Hy het tussen hulle gaan staan. Hy het vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede!” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy vir hulle gewys hoe lyk sy hande en hoe lyk dit waar die soldaat Hom met die spies gesteek het. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. Jesus het weer vir hulle gesê: “Ek gee vir julle my vrede. Die Vader het My gestuur. Nou stuur Ek julle ook.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op hulle geblaas en gesê: “Ek gee vir julle die Heilige Gees. As julle ander mense se sondes vergewe, dan vergewe God ook hulle sondes. As julle nie hulle sondes vergewe nie, dan vergewe God ook nie hulle sondes nie.”
Lees Johannes 20
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Johannes 20:1-23
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's