Johannes 11:1-44

Johannes 11:1-44 ABA

Lasarus was siek. Hy het in Betanië gewoon. Betanië was 'n dorpie waar Lasarus se susters Maria en Marta ook gewoon het. Dit was Maria wat lekkerruik-olie op die Here se voete uitgegooi het en toe sy voete met haar hare afgedroog het. Haar broer Lasarus was siek. Die twee susters het iemand gestuur om vir Jesus te sê dat Lasarus siek is, Lasarus vir wie Jesus lief was. Toe Jesus hoor dat Lasarus siek is, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie vir Lasarus doodmaak nie. God sal sy siekte gebruik om te wys dat Hy God is. Dan sal die mense kan sien dat Ek, die Seun van God, ook God is.” Jesus was lief vir Marta en haar suster en vir Lasarus. Jesus het gehoor dat Lasarus siek is, maar Hy het nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan weer na Judea.” Sy dissipels het gesê: “ Rabbi, nie lank gelede nie wou die Jode U daar doodgooi met klippe. Hoekom wil U nou weer daarnatoe gaan?” Jesus het gesê: “'n Dag het twaalf ure. Wanneer 'n mens in die dag loop, dan val hy nie, want hy sien die lig van die son, die lig van hierdie wêreld. Maar wanneer iemand in die nag loop, dan val hy, want daar is nie lig nie.” Toe sê Jesus: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, dit is goed dat hy slaap. Dan sal hy gesond word.” Toe Jesus gesê het Lasarus slaap, het dit beteken Lasarus is dood. Die dissipels het gedink Jesus praat van slaap soos 'n mens in die nag slaap. Jesus het toe reguit vir hulle gesê: “Lasarus is dood. Ek is bly Ek was nie daar toe Lasarus gesterf het nie. Dit is goed vir julle, want wat Ek sal doen, sal julle help om te glo. Kom ons gaan nou na hom toe.” Tomas, sy ander naam was “Tweeling,” het vir die ander dissipels gesê: “Kom ons gaan saam met Jesus, sodat ons saam met Hom kan sterf.” Toe Jesus in Betanië aankom, het Hy gehoor dat Lasarus vier dae in die graf is. Betanië was naby Jerusalem, omtrent 15 stadioi van Jerusalem. Baie Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle te troos omdat hulle broer Lasarus dood is. Toe Marta hoor dat Jesus kom, gaan sy na Hom toe om Hom te verwelkom. Maria het in die huis bly sit. Marta het vir Jesus gesê: “Here, as U hier was, dan het my broer nie gesterf nie, maar ek weet dat God ook nou vir U alles sal doen wat U vir Hom vra.” Jesus het vir haar gesê: “Jou broer sal weer lewe.” Marta sê toe vir Jesus: “Ek weet hy sal weer lewe op die laaste dag wanneer God al die mense wat dood is, weer sal laat lewe.” Jesus het vir haar gesê: “Ek laat mense lewe, Ek laat hulle vir altyd lewe. Mense wat in My glo en sterf, sal lewe. Almal wat lewe en wat in My glo, sal nie dood bly nie. Glo jy wat Ek vir jou sê?” Marta het vir Hom gesê: “Ja, Here, ek glo U is die Christus, die Seun van God. Ek glo U is die Een, God het U na die wêreld gestuur.” Nadat Marta dit gesê het, het sy teruggegaan huis toe. Sy het haar suster Maria geroep en saggies vir haar gesê: “Die Rabbi is hier. Hy roep jou.” Toe Maria dit hoor, het sy vinnig opgestaan en na Jesus toe gegaan. Jesus het nog nie in die stad ingegaan nie. Hy was nog daar waar Marta met Hom gepraat het. Daar was Jode saam met Maria in die huis. Hulle het gekom om haar te troos. Hulle het gesien Maria staan vinnig op en gaan buitetoe. Hulle het gedink sy gaan na Lasarus se graf om daar te gaan huil. Daarom het hulle saam met haar gegaan. Maria het by die plek gekom waar Jesus gestaan het en sy het voor Hom gekniel. Sy het vir Hom gesê: “Here, as U hier was toe my broer siek was, dan het my broer nie gesterf nie.” Jesus het gesien Maria huil. Hy het gesien die Jode wat saam met haar gekom het, huil ook. Toe was Jesus baie hartseer en ontsteld. Hy het gevra: “Waar het julle vir Lasarus begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk, ons sal vir U gaan wys.” Jesus het gehuil. Die Jode het gesê: “Kyk, Jesus huil, hy was baie lief vir Lasarus.” Party Jode het gesê: “Jesus het die blinde man laat sien. Hoekom het hy vir Lasarus laat sterf?” Toe Jesus by die graf kom, het Hy weer baie hartseer geword. Die graf was 'n grot en daar was 'n klip voor die ingang. Jesus het gesê hulle moet die klip wegrol. Marta, die suster van Lasarus, het vir Jesus gesê: “Nee, Here, ons kan dit nie doen nie. Lasarus is vier dae in die graf en dit sal sleg ruik.” Jesus het vir haar gesê: “Ek het vir jou gesê jy moet glo, dan sal jy sien God sal wys dat Hy God is.” Die Jode het die klip weggerol. Jesus het na die hemel gekyk en gesê: “Vader, dankie dat U my gebed hoor. Ek sê dit sodat die mense wat hier rondom My staan, kan glo dat U My na die wêreld gestuur het. Ek weet U luister altyd na my gebed.” Toe Jesus klaar gebid het, het Hy hard geskree en gesê: “Lasarus, kom uit die graf!” Lasarus, die man wat gesterf het, het uit die graf gekom. Die grafdoeke was nog om sy voete en hande, en daar was 'n kopdoek oor sy gesig. Jesus het vir hulle gesê: “Haal die grafdoeke van Lasarus af sodat hy huis toe kan gaan.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid