Jesaja 60:1-6

Jesaja 60:1-6 ABA

Jerusalem, jy moet opstaan, jy moet jou lig laat skyn, want jou lig het gekom, die lig van die Here self sal op jou skyn. Ja, kyk, dit is donker oor die aarde, oor al die volke. Maar die Here gee vir jóú lig, sy lig kom na jou toe. Nou sal die volke en die konings lewe in jou lig, die lig van jou nuwe dag. Jerusalem, kyk rondom jou, jy sal sien jou seuns en jou dogters kom van ver. Mense dra hulle, en hulle kom almal bymekaar, hulle kom na jou toe. Wanneer jy dit sien, dan sal jy baie bly wees. Jou hart sal vinnig klop en jy sal bly word, want al die duur en mooi dinge van die volke sal joune word. Dit sal na jou toe kom oor die see. Daar sal baie kamele na jou toe kom, kamele van die lande Midian en Efa. Hulle sal almal van die land Skeba kom en hulle sal goud en wierook bring. Die mense sal die Here prys.