Jesaja 11:1-10

Jesaja 11:1-10 ABA

Min mense het oorgebly van die nageslag van Isai. Hulle is soos 'n boom se stam wat oorgebly het in die grond wanneer iemand die boom afgekap het. Maar uit daardie boomstam sal 'n takkie groei en dit sal vrugte dra. 'n Kind sal gebore word en hy sal koning word. Die Gees van die Here sal by hom wees. Daarom sal hy wysheid en verstand hê, hy sal weet wat om te doen en hy sal dit kan doen, hy sal naby die Here wees en hy sal Hom dien. Hy sal bly wees omdat hy die Here kan dien. Hy sal 'n regter wees wat dieselfde doen aan almal, hy sal nie luister na skinderstories nie. Wanneer die arm mense in die poort kom, dan sal die koning reg doen aan hulle. Hy sal reg doen aan die mense wat nie belangrik is nie. Hy sal regeer oor almal in die land, en wanneer mense verkeerd doen, dan sal hy sê hulle moet sterf. Hy sal 'n koning wees wat regverdig sal regeer en hy sal eerlik wees. Die lam en die wolf sal saam woon. Die luiperd sal by die bokkie lê. Die leeu en die kalf en die bees sal saam wees, en 'n seuntjie sal vir hulle sorg. Die koei en die beer sal saam gras vreet, hulle kleintjies sal bymekaar lê, en die leeu sal gras vreet soos 'n koei. Klein kindertjies sal by slange se gate speel en hulle sal aan die slange vat. Die Here sê: “Op my gewyde berg sal niemand verkeerd doen nie, niemand sal iets breek nie.” Die see is vol water, en so sal die land ook vol mense wees wat naby My wil wees. Daardie dag sal die koning van die nageslag van Isai 'n teken wees vir die volke dat hulle moet kom. Hulle sal vir die koning vra wat hulle moet doen, en sy woonplek sal baie mooi wees.