Genesis 38

38
Juda en Tamar
1In daardie tyd het Juda weggegaan van sy broers. Hy het sy tent opgeslaan in Adullam, naby 'n ander man, sy naam was Gira. 2Daar het Juda 'n meisie van Kanaän gesien. Haar pa se naam was Sua. Juda het met haar getrou en hy het seks gehad met haar. 3Sy het swanger geword en 'n seun gekry. Juda het hom Er genoem. 4Sy het weer swanger geword en weer 'n seun gekry en sy het hom Onan genoem. 5Sy het nog 'n seun gekry en sy het hom Sela genoem. Hulle was in Kesib toe haar seun Sela gebore is.
6Juda het 'n vrou gekies vir sy oudste seun Er. Die vrou se naam was Tamar. 7Juda se oudste seun Er was 'n slegte man, en daarom het die Here hom laat sterf.
8Juda het toe vir sy tweede seun Onan gesê: “Gaan slaap by jou broer Er se weduwee sodat sy 'n kind kan kry, want jy is haar swaer. Doen dit sodat daar 'n nageslag vir jou broer kan wees.”
9Maar Onan het besef dat die nageslag wat uit haar gebore sou word, nie sy nageslag sou wees nie. Hy het seks gehad met sy broer se weduwee, maar elke maal het hy sy saad op die grond laat val. Hy het dit gedoen omdat hy nie vir sy broer 'n nageslag wou laat kry nie. 10Wat Onan gedoen het, was verkeerd. Die Here was ontevrede daaroor en Hy het vir Onan ook laat sterf.
11Juda sê toe vir sy skoondogter Tamar: “Gaan terug na jou pa se huis en bly 'n weduwee totdat my seun Sela groot is.”
Juda was bang dat Sela ook sou sterf, soos sy broers. Tamar het in haar pa se huis gaan bly.
12Ná 'n lang tyd het Juda se vrou Bat-Sua gesterf. Hy het gehuil en getreur oor haar, en toe die tyd verby was toe hy gerou het, het hy na die stad Timna gegaan om sy skape en bokke te gaan skeer. Sy vriend Gira van Adullam het saam met hom gegaan. 13Die mense het vir Tamar vertel: “Jou skoonpa gaan na Timna om sy skape en bokke te skeer.” 14Tamar het gesien dat Sela groot geword het, maar Juda het haar nie vir Sela gegee sodat hulle twee kon trou nie.
Tamar trek toe haar weduwee-klere uit en maak haar gesig toe met 'n sluier. Sy het haar vermom en gaan sit by die stad Enajim se poort langs die pad wat na Timna gaan. 15Toe Juda haar sien, het hy gedink dat sy 'n prostituut is, want sy het haar gesig toegemaak met 'n sluier. 16Hy het by haar gestop en vir haar gesê: “Kom, ek wil asseblief seks hê met jou.”
Hy het nie geweet dat dit sy skoondogter is nie. Tamar vra toe vir hom: “Wat sal jy my betaal?”
17Hy het geantwoord: “Ek sal vir jou 'n bok-lam gee. Ek sal dit later vir jou stuur.”
Sy sê toe: “Jy moet eers vir my 'n bewys gee dat jy die bok-lam sal stuur.”
18Hy vra toe: “Watter bewys wil jy hê? Wat moet ek vir jou gee?”
En sy sê: “Jou seël met sy toutjie, en die kierie wat in jou hand is.”
Hy het dit vir haar gegee. Juda het seks gehad met haar, en sy het swanger geword.
19Sy het weggegaan, haar sluier afgehaal en weer haar weduwee-klere aangetrek. 20Juda het sy vriend Gira van Adullam gestuur om die bok-lam vir haar te bring, sodat hy die seëlring en die toutjie en die kierie kon terugkry van die vrou, maar sy vriend Gira kon nie die vrou kry nie. 21Gira vra toe vir die mense by die plek waar sy gesit het: “Waar is die tempel-prostituut wat by Enajim langs die pad gesit het?”
Maar hulle sê: “Hier is nie 'n tempel-prostituut nie.”
22Gira gaan toe terug na Juda toe en sê vir hom: “Ek het haar nie gekry nie, en die mense van daardie plek sê ook daar is nie 'n tempel-prostituut daar nie.”
23Toe sê Juda: “Sy mag die goed hou. Ek wil nie hê die mense moet ons spot nie. Ek het die bok-lam gestuur, maar jy kon haar nie kry nie.”
Tamar kry twee seuns
24Omtrent drie maande later het die mense vir Juda vertel: “Jou skoondogter Tamar het seks gehad met 'n man, sy was soos 'n slegte vrou. Sy is nou swanger.”
Juda sê toe: “Bring haar uit sodat ons haar kan verbrand.”
25Die mense het haar uitgebring, maar sy het vir haar skoonpa 'n boodskap gestuur: “Ek is swanger, en hierdie goed behoort aan die man wat seks gehad het met my. Kyk asseblief goed wie se seëlring en toutjie en kierie dit is.”
26Juda het gesien dat dit sy eie goed is en toe sê hy: “Sy is onskuldig. Dit is ék wat verkeerd is, want ek het nie my seun Sela met haar laat trou nie.”
Juda het nie weer seks gehad met haar nie.
27Die tyd het gekom dat die kind gebore moes word, en Tamar het 'n tweeling gekry. 28Toe die babas gebore word, steek die een sy hand uit. Die vrou wat vir Tamar gehelp het, neem toe 'n stuk rooi garing en bind dit om sy arm. Sy het gesê: “Hierdie een het eerste uitgekom.”
29Maar hy het sy hand teruggetrek, en toe kom sy broer eerste uit. Sy sê toe: “Jy het vir jouself 'n pad oopgebreek.”
En sy het hom Peres genoem. 30Daarna is sy broer gebore met die rooi garing aan sy hand, en sy het hom Serag genoem.

Tans Gekies:

Genesis 38: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid