Genesis 31:22-42

Genesis 31:22-42 ABA

Drie dae later het Laban uitgevind dat Jakob gevlug het. Laban het die mans in sy familie saamgeneem en hulle het vir Jakob gevolg en gejaag. Ná sewe dae het hulle hom by die Gilead-berg gekry. Daardie nag het Laban gedroom dat God na hom toe kom en vir hom sê: “Jy moet pasop wat jy vir Jakob sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie.” Toe Laban by Jakob kom, het Jakob klaar sy tent by die Gilead-berg opgeslaan. Laban en sy manne het hulle tente ook daar opgeslaan. Laban sê toe vir Jakob: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en jy het my dogters soos gevangenes weggevat. Hoekom het jy soos 'n skelm gevlug en my bedrieg en niks gesê nie? Ek sou jou laat gaan het en ons sou vrolik gewees het. “Ons sou gesing het en musiek gemaak het met tamboeryne en liere. “Jy het weggegaan, en ek kon nie my kleinseuns en my dogters groet nie. Jy het verkeerd gedoen. Ek kan jou straf as ek wil, maar die God van julle pa het gisteraand met my gepraat en gesê: ‘Jy moet pasop wat jy vir Jakob sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie.’ Dit is goed as jy weggaan omdat jy so baie verlang na jou pa se familie, maar hoekom het jy my beeldjies gesteel?” Jakob het vir Laban gesê: “Ek het gevlug, want ek was bang en ek het gedink jy sal miskien jou dogters wegvat van my. As jy jou beeldjies hier by iemand kry, dan mag daardie persoon nie lewe nie. Jy mag self soek voor al jou mense wat hier is en jy mag die beeldjies terugvat.” Jakob het nie geweet dat Ragel die beeldjies gesteel het nie. Laban het toe gesoek in Jakob se tent en in Lea se tent en in die twee slavinne se tente, maar hy het niks gekry nie. Hy gaan toe uit Lea se tent na Ragel se tent. Ragel het die beeldjies in 'n sak weggesteek en sy het bo-op die sak gaan sit. Laban het oral in al die tente gesoek, maar hy het niks gekry nie. Ragel het vir haar pa gesê: “Pa moenie kwaad word vir my as ek nie vir Pa opstaan nie. Ek menstrueer.” Laban het verder gesoek, maar hy het niks gekry nie. Toe het Jakob kwaad geword en hy het hard met Laban gepraat. Hy het vir Laban gevra: “Wat het ek verkeerd gedoen? Watter sonde het ek gedoen? Hoekom het jy my gevolg en gejaag? Jy het in al my goed gesoek. Het jy iets gekry wat uit jou huis kom? As jy iets gekry het, sit dit dan hier neer voor my familie en jou familie, sodat hulle kan sê wie was reg, ek of jy. Ek was 20 jaar lank by jou. Jou skaap-ooie en jou bok-ooie het gereeld lammers gekry, en ek het nie jou ramme geslag om te eet nie. Wanneer die roofdiere 'n dier van jou doodgebyt het, dan het ek nie die dooie dier vir jou gebring nie. Ek moes een van my diere in sy plek gee. Wanneer diewe in die dag of in die nag van jou diere gesteel het, dan moes ek een van mý diere gee vir elkeen van daardie diere. Ek het baie swaar gekry. In die dag het die son my gebrand en in die nag het ek baie koud gekry. Ek kon nie slaap nie. Ek het nou 20 jaar vir jou gewerk. Ek het 14 jaar lank gewerk om jou twee dogters te kry, en ses jaar om skape en bokke van jou te kry. Jy het my betaling tien maal verander. As die God van my pa my nie gehelp het nie, dan sou jy my weggestuur het en jy sou niks vir my gegee het nie. Die God van Abraham en die God wat vir Isak beskerm het, het gesien dat ek swaarkry. Hy het gesien hoe hard ek gewerk het, en Hy het gisteraand gesê wie is reg, ek of jy.”

Video vir Genesis 31:22-42