Genesis 25:21-34

Genesis 25:21-34 ABA

Isak het tot die Here gebid oor sy vrou, want sy kon nie kinders kry nie. Die Here het geluister na sy gebed, en sy vrou Rebekka het swanger geword. Die kinders in haar het baie teen mekaar geskop, en sy het gesê: “Hoekom skop die kinders so?” Sy het gaan bid en vir die Here gevra hoekom dit gebeur. Die Here het vir haar gesê: “Die twee kinders in jou sal mekaar se vyande word. Hulle sal twee volke word. Die een volk sal sterker wees as die ander volk, en die oudste sal die jongste dien.” Toe die kinders gebore is, was dit 'n tweeling. Toe die eerste seun gebore is, sien hulle hy is rooi en hy het baie hare op sy lyf, so baie hare soos op 'n dier se vel. Daarom het hulle hom Esau genoem. Daarna is sy broer gebore. Sy broer se hand het aan Esau se voet vasgehou. Hulle het hom Jakob genoem. Isak was 60 jaar oud toe die twee seuns gebore is. Die seuns het grootgeword, en Esau kon goed jag. Hy het gehou van die veld. Jakob was 'n rustige man en hy het geboer met skape en bokke. Isak was meer lief vir Esau, want Isak het gehou van wildsvleis. Maar Rebekka was meer lief vir Jakob. Eendag was Jakob besig om sop te kook. Esau het van die veld gekom en hy was baie moeg. Esau sê toe vir Jakob: “Ek is baie honger. Gee my asseblief van daardie rooi sop van jou.” Daarom het hulle Esau ook Edom genoem. Maar Jakob sê vir hom: “Gee dan vir my eers die regte wat jy het omdat jy eerste gebore is.” Toe sê Esau: “Goed. Ek is baie honger. Ek voel ek sal sterf. Die regte sal my niks help wanneer ek dood is nie.” Jakob sê toe: “Jy moet dit eers vir my belowe.” Esau het dit belowe en hy het sy regte vir Jakob gegee. Jakob het vir Esau brood en die lensiesop gegee. Esau het dit geëet en hy het opgestaan en geloop. So het Esau sy regte weggegee. Dit was nie vir hom belangrik nie.

Video vir Genesis 25:21-34